Update
GEORGE NUUS - Twee mans van George wat van moord op hul vriendinne aangekla word, het weer in die George-landdroshof verskyn.
Marshall Campbell (28), wat van die moord op sy lewensmaat, Mynéll de Jongh (28), verdink word is op 20 Junie op borgtog vrygelaat.
Sy saak is oorgedra na die Thembalethu-streekshof vir pleit en verhoor. Campbell verskyn weer op 22 Augustus. De Jongh se liggaam is op
26 Maart in 'n huis in Hurterstraat, Rosemoor gevind. Sy het vermoedelik doodgebloei na twee steekwonde aan haar skouer en kuit waar haar slagaar raakgesny is. Campbell is op die toneel in hegtenis geneem.
Anrick Corridon (27), wat van die moord van sy meisie, Alzaan Mohammed (31) aangekla word, het Dinsdag 15 Augustus weer voorgekom.
Die saak is tot 20 September uitgestel vir verdere ondersoek.
Die polisie is op 26 Maart na die George-hospitaal ontbied waar Mohammed, wat ernstig aangerand was, in 'n kritieke toestand opgeneem is. Sy het 'n paar dae later in die hospitaal gesterf. Corridon het homself daarna aan die polisie oorgegee en is sedert die voorval in aanhouding.
Lees 'n vorige artikel: Jong ma's glo deur kêrels vermoor
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'