Update
GEORGE NUUS - Ná wat blyk na gapings in kommunikasie op verskillende vlakke met betrekking tot sy hofverskyning, het die moordverdagte, Marshall Campbell (30), Vrydagoggend, 26 Oktober uit sy eie by die George-polisiestasie opgedaag.
Die George Herald het verlede week berig oor 'n lasbrief wat vir sy arrestasie uitgereik is ná hy na bewering versuim het om op 24 April in die Thembalethu-streekhof te verskyn.
Campbell, wat op borgtog vrygelaat is, word daarvan verdink dat hy sy vriendin, Mynéll de Jongh (28) in 2017 vermoor het.
Volgens 'n familiewoordvoerder wat verkies om anoniem te bly, was die verdagte, nóg sy familie, tot onlangs nie bewus van enige datum wat die hof vir sy volgende verskyning gegee het nie.
"Marshall en sy prokureur was albei siek op 10 April en kon nie daardie dag die saak bywoon nie. Dit is uitgestel en die familie is dieselfde dag, toe hulle Marshall se doktersbrief aan die hof oorhandig het, gesê om instruksies te verwag vir 'n nuwe datum," sê sy. Dit het klaarblyklik nie gebeur nie.
Volgens die woordvoerder het die verdagte se familie hom dadelik in kennis gestel toe hulle verlede week bewus geword het van die lasbrief.
"Hy werk al die afgelope drie maande buite die dorp om sy regskoste te betaal. Hulle het hom dadelik ingelig en hy is inderhaas Donderdag na George."
Die verdagte en De Jongh het in Oktober 2016 begin uitgaan.
"Na die noodlottige voorval het hy nie één hofsaak gemis nie. Dit blyk dat die owerhede nie bewus was van Marshall se doktersbrief nie. Hy is nie 'n voortvlugtige nie," het die woordvoerder aan die George Herald gesê.
'n Nuwe ondersoekbeampte, Daniël Makonza, is intussen aangestel om die saak te hanteer na die vorige ondersoekbeampte na Mosselbaai oorgeplaas is.
Die verdagte het Vrydag 26 Oktober vier keer in die hof verskyn met betrekking tot die lasbrief vir sy inhegtenisname waarna hy wéér borgtog moes betaal. Hy moes Maandag weer verskyn, maar as gevolg van die brande kon sy prokureur nie in George uitkom nie. Die saak is uitgestel tot môre, 2 November.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die verdagte vroeg Vrydagoggend in hegtenis geneem ná hy homself aan die polisie oorhandig het.
"Hy het Maandag in die George-landdroshof op 'n aanklag van minagting na die hof verskyn ná hy versuim het om sy vorige verskyning in verband met die moord op Mynéll de Jongh by te woon," het Pojie gesê. "Ons moet die media prys oor die artikel in verlede week se George Herald wat daartoe gelei het dat hy homself aan die polisie oorhandig het."
*After what appears to be numerous gaps in communication on different fronts regarding his court appearance, a murder suspect, Marshall Campbell (30), presented himself to police early on Friday morning, 26 October. According to a family spokesperson neither Campbell nor his family was aware of a date set by the court for his next appearance. Due to illness, Campbell and his lawyer could not attend court on the scheduled date, 10 April. The case was postponed and his family was told to await instructions regarding a new court date. According to the spokesperson they received no such notification. As soon as Campbell’s family and friends learned that authorities were looking for him, they informed him. Campbell, who has been working out of town for the past three months to pay his lawyer’s fees, hastened to George to hand himself in.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'