Update
GEORGE NUUS - Die ou eikeboom voor die NG Moeder-gemeente bly behoue. Duidelikheid is gisteroggend, Woensdag 5 Februarie, verkry toe die dagbestuur van die kerkraad oor die toekoms van die boom besin het.
Die boom is een van George se bekendste en oudste bome.
Die boom, wat in 1884 geplant is, is meer as 130 jaar oud en 'n bekende gesig voor die kerk. Takke van die boom het kort voor Kersfees afgebreek en alle aanduidings is dat dit gevrek het. Die stompkopkewer (euwallacea fornicatus) en sy simbiotiese swam (fusarium euwallaceae) het daartoe bygedra.
Daar was verskillende sieninge oor wat met die boom moet gebeur.
Drew de Kock, gemeentebestuurder, het gesê as dit nie Saterdag reën nie, sal van die takke deur Frikkie Brand, 'n kundige op die gebied afgesaag word. Die stam en van die ander takke sal behoue bly.
"Ons wil die boom bewaar," het De Kock gesê.
Hy het ook bygevoeg: "Die boom sal beveilig en behandel word."
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'