GEORGE NUUS - Verskillende moontlikhede word oorweeg vir een van George se bekendste en oudste bome, die ou eikeboom voor die NG Moedergemeente.
Takke van die boom het kort voor Kersfees afgebreek en alle aanduidings is dat dit gevrek het. Die stompkopkewer (euwallacea fornicatus) en sy simbiotiese swam (fusarium euwallaceae) het daartoe bygedra.
Die boom, wat in 1884 geplant is, is meer as 130 jaar oud en 'n bekende gesig voor die kerk. Prof. Wilhelm de Beer van die Instituut vir bosbou en landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria, het in Desember die gebied besoek en 'n draai by die boom gemaak.
Drew de Kock, gemeentebestuurder, het Dinsdag gesê daar word gehoop om binnekort duidelikheid te kry oor die toekoms van die boom.
Daar is vier moontlikhede wat oorweeg word en hy kan dit nie in die stadium bekend maak nie. Lede van die kerkraad sal genooi word om insette te lewer.
Volgens hom is dit 'n baie sensitiewe aangeleentheid. Daar is mense wat sterk menings oor die boom het. Dit wissel van sommige wat wil hê dat dit afgesaag moet word tot ander wat wil hê dit moet behoue bly.
In die stadium hou dit nie 'n veiligheidsgevaar in nie. Mense word aangeraai om liefs nie naby die boom te kom nie.
Hy het kontak gemaak met De Beer wat aangedui het dat hy waarskynlik in Februarie 'n draai in George sal maak.
Dit is deel van 'n uitgebreide projek waar gekyk word na die kewer en sy simbiotiese swam se impak op bome in die gebied. Hy sal dan weer na die boom kyk.
Hy het gesê die boom kan nie gered word nie.
Daar is op die kerk se terrein ook ander bome waar die kewer is, maar hulle sal nie sommer vrek nie.
In die groter gebied is baie ander bome wat vatbaar is vir die kewer.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'