GEORGE NUUS - Wat met een van George se bekendste en oudste bome, die ou eikeboom voor die NG Moedergemeente, gaan gebeur, behoort binne die volgende paar weke duidelik te word.
Takke van die boom het kort voor Kersfees afgebreek en alle aanduidings is dat dit gevrek het. Die stompkopkewer (Euwallacea fornicatus) en sy simbotiese swam (Fusarium euwallaceae) het daartoe bygedra.
Die boom, wat in 1884 geplant is, is meer as 130 jaar oud en 'n bekende gesig voor die kerk.
Die George Herald het op 19 Desember berig dat die boom probleme het. Minder as 'n week later het die takke afgebreek. 'n Paar maande gelede is vasgestel dat die boom deur die stompkopkewer aangeval is en pogings is aangewend om dit te red.
Prof. Wilhelm de Beer van die Instituut vir Bosbou en Landboutegnologie (Fabi) aan die Universiteit van Pretoria, het Saterdag 14 Desember die gebied besoek en 'n draai by die boom gemaak. De Beer het toe gesê die boom het gevrek. Die boom was al oud en daar kon ook ander stresfaktore soos byvoorbeeld die droogte gewees het. Die kewer het hom oor die kantelpunt gehelp.
"Die boom was oud maar sou nog 'n hele paar jaar kon leef."
Drew de Kock, gemeentebestuurder, het Maandag gesê die dagbestuur van die kerkraad sal binnekort vergader om te besluit oor die pad vorentoe. Daar sal gekyk word of dele van die boom moontlik behoue kan bly.
De Beer het by navraag gesê daar is niks wat vir die boom gedoen kan word nie. "Ek is bereid om te help sodat die situasie aangespreek kan word."
Dr. Jaap Steenkamp, bekende bosboukenner, het gesê hy het die boom reeds laas lente besoek. Hy het toe besef daar is nie veel wat gedoen kan word nie. "As 'n boom dood is, is hy dood. Hy gaan nie weer lewe nie." Daar is lesse te leer uit die situasie. "Dit is belangrik om betyds kundige advies te kry."
Die takke van een van George se bekendste en oudste bome, die ou eikeboom voor die NG Moedergemeente, het in Desember afgebreek. Foto's: Eugene Gunning
Volgens hom daar is beslis nog bome op die kerkterrein en aanliggende omgewing wat besmet is en die kewer- en swamprobleem gaan voort.
Verskeie bome in George het al die afgelope 18 maande gevrek as gevolg van die kewer en die swam. Die kewer is 2 mm lank en kom oorspronklik van Suidoos-Asië.
Lees 'n verwante artikel: Stompkopkewer saai steeds verwoesting
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'