GEORGE NUUS - "Ek sal dit vir geen geld in die wêreld verruil nie." So het Karin da Silva, 'n inwoner van George, vertel na haar deelname aan die realiteitsprogram, Ster Status.
Sy was een van 12 finaliste en aanvanklik was daar meer as 200 deelnemers van oor die land.
Die wenner is Saterdagaand, 5 Desember, tydens 'n gala-aand in Pretoria aangewys. 'n Opname van die geleentheid is gemaak en is Dinsdagaand 15 Desember, op DSTV se VIA-kanaal uitgesaai.
Die kompetisie het ten doel om vroue in die vermaaklikheidsbedryf te bemagtig. Die wenner sal aanstaande jaar 'n program op televisie aanbied. Al het sy nie gewen nie, het sy ontsettend baie geleer.
Die 34-jarige Da Silva is gebore en getoë in George. Sy het in 2004 haar skoolloopbaan aan Hoërskool Pacaltsdorp voltooi. Na skool het sy haar drome nagejaag en werk nou voltyds as 'n hoof finansiële beampte.
Sy het aanvanklik nie eers geweet van die program nie, maar iemand het haar genomineer en ingeskryf.
Sy het na die kompetisie aan George Herald gesê dit was die beste ervaring van haar lewe.
"Ek het myself uit my gemaksone gehaal en so baie geleer. Die ondervinding en kennis is iets wat niemand van my kan wegneem nie. "Die kompetisie het deure vir my oopgemaak."
Voorheen was sy nooit iemand wat vir so 'n kompetisie sou inskryf nie. Sy moedig ander mense aan om in die toekoms ook vir die soort kompetisies in te skryf. Veral plaaslike mense. "Hulle moet aanhou droom en nooit dink hul drome is te groot nie."
Al is die kompetisie verby, is sy nie van plan om stil te sit nie. Sy oorweeg verskillende moontlikhede sodat sy in die streek kan terugploeg. Sy sal later meer besonderhede bekendmaak.
Da Silva is baie bly vir die wat gewen het en sy het haar dank uitgespreek teenoor almal wat betrokke was by die kompetisie en diegene wat haar ondersteun het.
'Ons bring jou die nuutst George, Tuinroete nuus'