Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Terwyl inwoners aan die Tuinroete steier na nog groot brande, weet ondersoekers na die oorsaak van die oorspronklike brand verlede Woensdag by Herold, op wie se plaas dit begin het en wie daarby betrokke was. Dit is deur Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning in 'n eksklusiewe onderhoud onthul.
Hy het Dinsdag die gebied besoek. Bredell het met die George Herald gepraat te midde van toenemende vrae en kritiek oor die hantering van die brande deur die owerhede. Herold, hoofsaaklik 'n landbou-gemeenskap, is diep in die Outeniquaberge.
Die Knysna-brande van 7 Junie 2017, minder as 18 maande gelede, is nog vars in mense se geheue. Vrae word nou gevra of daar dan nie lesse geleer is uit die Knysna-brande nie en of genoeg betyds gedoen is om die brande te stuit wat 'n spoor van verwoesting gelaat het.
Buiten die brand by Herold, het ander brande ook later voorgekom wat deur weerlig ontstaan het. Minstens agt mense het in een van die brande by die Farleigh-bosboustasie by Karatara gesterf. 'n Brand het ook ontstaan by De Vlugt. Duisende hektaar veld is verwoes en die brande het oor afstande van etlike kilometer versprei.
In een stadium was die vuurlyn (fireline) by een van die brande 25 km lank. Dit is aangehelp deur baie sterk winde, droë toestande en dele wat 45 jaar laas behoorlik gebrand het.
Op goeie gesag word verneem daar is getuies beskikbaar oor wat verlede Woensdag op die plaas in Herold gebeur het.
Kyk video hieronder
'n Landkaart van die brande op Woensdag 31 Oktober.
'n Inwoner van die gebied wat verkies om anoniem te bly, het vertel dat 'n foto kort na 18:00 Woensdagaand na 'n polisie WhatsApp-groep gestuur is. Daar was geen reaksie nie, want die betrokkene werk nie meer in Herold nie. Die persoon het die inwoner gevra om die brandweer te bel. Die inwoner het op die internet gaan kyk en 'n noodnommer, 10111 gebel. Niemand het geantwoord nie en die inwoner het toe op die George Herald se webtuiste vir noodnommers gaan soek. Per ongeluk het die inwoner die NSRI gebel en 'n verteenwoordiger van die instansie het toe die brandweer gebel.
Dit is 'n miernes van aktiwiteit in die gesamentlike operasionele bestuursentrum by die Garden Route-distriksmunisipaliteit.
Die George Herald het Woensdag verneem dat duidelikheid of die gebied tot 'n provinsiale rampgebied verklaar sal word, eers later verkry sal word. Die Wes-Kaapse kabinet sal daaroor besluit. Op die oomblik word die omvang van die skade nog bepaal.
Bredell het gesê weens die feit dat daar moontlik regsprosesse sal volg kan hy nie in die stadium kommentaar lewer oor die ontstaan van die vuur en wat daarmee verband hou nie.
Hy het wel bevestig dat die brand beslis deur "nalatigheid" ontstaan het en nie deur natuurelemente soos donderweer nie. "Ons het 'n redelike goeie idee waar die vuur ontstaan het en ons weet hoe hy ontstaan het."
CapeNature het hom vroeg vandeesweek ingelig wie die eienaar van die plaas is waar die brand ontstaan het. "Hulle weet ook wie dit aan die brand gesteek het." Die ondersoek is nou aan die gang en sal uitwys wat gebeur het.
Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell (agter regs) tydens 'n besoek aan die gesamentlike operasionele bestuursentrum by die Garden Route-distriksmunisipaliteit. Agter, van links is Garden Route rampbestuurhoof Gerhard Otto, en Wendy Tawse van Cape Nature. Voor van links is Santa Sternsdorf, seksiebevelvoerder van George-brandweer, en Freddy Thaver, brandweerhoof van Garden Route DM. Foto's: Michelle Pienaar
Bredell het tydens sy besoek gesê dinge stuur op 'n ramp af. "Ons is bekommerd. Ons het alle kundigheid en hulpbronne ontplooi sodat ons 'n ramp kan voorkom."
Hy het benadruk dat die bepaalde weersomstandighede die situasie bemoeilik het om byvoorbeeld lugsteun te verskaf. Meer as 500 brandweerpersoneel, verskeie voertuie en vyf helikopters is ingespan. Munisipaliteite in die Wes-Kaap en nooddienspersoneel uit ander provinsies het ook kom help.
Volgens Bredell het die brandseisoen in die Wes-Kaap "regtig sleg" begin. "Die laaste twee weke was daar sewe groot vure. Ons het minstens 2 500 informele huise verloor." 'n Helikoptervlieënier het ook gesterf toe hy met brandbestryding gehelp het.
Volgens Bredell is daar wel baie geleer uit die Knysna-brande. Daar is steeds groot probleme met plantegroei en huise is gebou op plekke waar dit nie moes gebeur het nie. "Natuurlik sal mense vinger wys." Dis 'n situasie wat geërf is en bestuur moet word.
Wat hom betref is betyds opgetree. Die brande is nog nie verby nie en dit gaan 'n klompie dae neem voordat dinge normaliseer. Hy het mense gevra om nie paniekerig te raak nie.
Lees vorige artikels hier:
- Fire nightmare begins in Herold
- Update: Fire in Herold, Outeniqua mountain
- Update: Fires in Herold, mountains
- Garden Route District Municipality fire update
- George fire update
- Outeniquapas weer oop
- Garden Route fires update
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'