Update
GEORGE NUUS - Slotbetoë in die moordsaak van Joan Singrew (53) word vanoggend, 18 Maart, in die rondgaande hooggeregshof in George hervat wanneer die verdediging sy betoog lewer.
Duane Singrew (47) en sy neef, Heinrich Jumat (46), staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, moord en dwarsboming van die gereg. Albei beskuldigdes het onskuldig gepleit.
Die staat het Maandag sy slotbetoë afgesluit. Advokaat Evadne Kortje het aangevoer dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het en dat die getuienis in sy totaliteit oorweldigend teen die beskuldigdes tel.
Volgens Kortje is Duane Singrew se weergawe dat hy “geframe” word nie net vêrgesog nie, maar ook onwaarskynlik en duidelik gefabriseer. Sy het die hof gevra om dié weergawe te verwerp.
Singrew is op 21 November 2024 vermoor. Haar liggaam is enkele dae later op 25 November, op wat haar 54ste verjaarsdag sou wees, in ’n beboste gebied naby Charlesstraat in Groot-Brakrivier gevind.
Die staat het sterk gesteun op forensiese getuienis en videobewyse.
Getuienis van ’n adjudant-offisier wat in videografie en fotografie spesialiseer, het vroeër getuig dat beeldmateriaal by verskeie besighede in Groot-Brakrivier en George verkry is.
Die opnames toon ’n konsekwente patroon waarin dieselfde wit Ford Figo herhaaldelik verskyn.
Beeldmateriaal van 21 November, die dag van Singrew se verdwyning, wys dié voertuig omstreeks 10:36 buite die oorledene se woning in Rosemoor. Later dieselfde dag is die voertuig op pad na die gebied waar haar liggaam gevind is.
Dit is ook weer op pad terug op beeldmateriaal vasgelê voordat dit in die rigting van die N2 vertrek het.
’n Bloedspatselkenner en forensiese-ontleder van die polisie, het verder getuig dat spore van bloed, moontlik ou of skoongemaakte bloed, in die Singrew-woning sowel as in Duane se voertuig gevind is.
Bloed is onder meer in die gang, Duane se slaapkamervloer, die gangmuur, die gang se vloer voor die oorledene se slaapkamer, in die kattebak, passasiersitplek en die mat aan die bestuurderskant onder die pedale gevind. Die kattebak was tydens die forensiese ondersoek nog nat tot by die spaarwiel en mat.
Kortje het aangevoer dat Jumat waarskynlik in die voertuig voor die woning was terwyl ’n konfrontasie tussen Duane en die oorledene binne die huis plaasgevind het en waartydens sy vermoor is.
Daarna is die voertuig glo na die agterkant van die huis verskuif, waarvandaan die liggaam uit die huis verwyder en in die kattebak gelaai is.
Hoewel die staat erken het dat die moord moontlik in die hitte van die oomblik gepleeg is, het Kortje betoog dat die beskuldigdes se optrede met voorbedagte rade was.
Volgens haar het Duane geweet die oorledene was op pad om ’n klag teen hom by die polisie in te dien, en hy het doelbewus opgetree om dit te verhoed.
Jumat het verkies om nie te getuig nie.
Die saak dien voor regter André le Grange. Advokaat Johan Visser tree vir die verdediging op.
Previous articles:
- Slotbetoë wag in Singrew-moordsaak
- Joan Singrew murder: Husband's movements scrutinised
- Man getuig oor sy bewegings toe Joan Singrew verdwyn
- Joan Singrew murder trial: Accused brings application for discharge
- Joan Singrew murder: CCTV evidence presented
- Geweld voor Joan se dood
- Joan Singrew murder trial starts in high court
- Joan Singrew-moordverhoor begin eersdaags
- Joan Singrew murder: Two suspects arrested
- Body found on birthday
- Familie bevestig liggaam van Groot-Brak is dié van Joan Singrew
- Vrou se lyk op Groot-Brak gevind
- George woman reported as missing
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’