Update
GEORGE NUUS - Die moordsaak teen Duane Singrew (47) en sy neef, Heinrich Jumat (46), het Maandag 20 Januarie 'n belangrike mylpaal bereik toe beide die staat en die verdediging hul sake in die George rondgaande hooggeregshof gesluit het.
Die hof sal weer op Maandag 16 Maart sit wanneer slotbetoë aangehoor word in 'n moordsaak wat draai om 'n onstuimige huwelik, botsende weergawes van gebeure en ernstige beskuldigings van geweld.
Joan se liggaam is op haar verjaarsdag op Maandag 25 November 2024 in bosse langs Charlesstraat in Groot-Brakrivier gevind. Singrew en Jumat is kort daarna in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding.
Die verbrokkelde huwelik tussen Duane en Joan Singrew, bly sentraal tot die moordsaak. Die verhouding is gekenmerk deur bewerings van huishoudelike geweld, beskuldigings van buite-egtelike verhoudings en verskeie beskermingsbevele.
Verslae dui ook daarop dat Joan, in die geval van 'n egskeiding, geregtig sou wees op die helfte van die huweliksboedel. Dié was 'n skikking wat Singrew glo teengestaan het.
Singrew was vir die grootste deel van verlede week onder kruisverhoor deur staatsadvokaat Evadné Kortje, wat sy weergawe van gebeure bevraagteken het. Jumat het gedurende die verrigtinge in die beskuldigdebank gebly. Hy het nie getuig nie.
Singrew ontken enige betrokkenheid by sy vrou se dood asook enige aanranding. Ten tyde van haar verdwyning het Joan 'n aktiewe beskermingsbevel teen Singrew gehad en was sy glo van plan om op dieselfde dag wat sy vermis geraak het, 'n saak vir die oortreding daarvan te open.
Toe die polisie later daardie aand die egpaar se woning besoek het, was die beskermingsbevel, asook haar handsak en selfoon, weg. Dit is tot vandag toe nog nie gevind nie.
Die aand voor haar verdwyning is sy deur 'n man, met wie sy na bewering 'n verhouding gehad het, by die huis afgelaai. Volgens die man se getuienis is hy daardie aand deur Singrew gevolg terwyl hy huis toe gery het.
Tydens kruisverhoor het die staat dit aan Singrew gestel dat hy en Joan in 'n argument betrokke geraak het waarna hy haar aangerand en met sy kaal hande verwurg het. Daarna moes hy van haar liggaam ontslae raak.
"Soos vullis het jy Joan Singrew, die moeder van jou twee kinders en jou vrou van 17 jaar, weggegooi," het Kortje tydens kruisverhoor gesê.
Verskeie familielede en vriende is daagliks by die hof wanneer Joan se saak voorkom. Foto: Kristy Kolberg
Vorige artikels:
- Joan Singrew murder: Husband's movements scrutinised
- Man getuig oor sy bewegings toe Joan Singrew verdwyn
- Joan Singrew murder trial: Accused brings application for discharge
- Joan Singrew murder: CCTV evidence presented
- Geweld voor Joan se dood
- Joan Singrew murder trial starts in high court
- Joan Singrew-moordverhoor begin eersdaags
- Joan Singrew murder: Two suspects arrested
- Body found on birthday
- Familie bevestig liggaam van Groot-Brak is dié van Joan Singrew
- Vrou se lyk op Groot-Brak gevind
- George woman reported as missing
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’