GEORGE NUUS - Familie, vriende en die publiek kry komende Vrydag, 13 November, die geleentheid om afskeid te neem van die bekende komponis, orrelis en musiekverwerker prof. Chris Lamprecht (99), wat op Vrydag 6 November oorlede is.
Sy gedenkdiens word om 10:00 in die George NG Moederkerk gehou. Die diens sal ook regstreeks op sy Facebookblad, Chris Lamprecht Musiek, gestroom word.
Lamprecht het jare lank in Heroldsbaai naby George gewoon voordat hy en sy vrou, Elza, na die Genevafontein-aftreeoord verhuis het.
Sy dogter, Lize van Niekerk, het namens die familie hul dank uitgespreek vir die ondersteuning wat hulle sedert sy afsterwe ontvang het.
“Ons wil graag elkeen bedank wat soveel liefde en ondersteuning vir ons gee gedurende die hartseer tyd. Dit word besonder baie waardeer,” het sy gesê.
Lamprecht se komposisies en verwerkings het oor dekades heen deel geword van die Afrikaanse musiekskat. Hy het tot diep in sy negentigs gekomponeer en nog in Mei vanjaar 'n nuwe koorwerk, Liefde sonder einde, 'n toonsetting van Psalm 136, aan dr. André van Zyl, voormalige dirigent van die Eden Camerata-kamerkoor op George, oorhandig.
Verlede jaar is hy tydens 'n huldigingsgeleentheid van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) met 'n Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek vereer.
Hy het ongeveer 800 volksmelodieë uit Suid-Afrika en Namibië opgeteken, waarvan 250 verwerk en deur die SAUK opgeneem is.
Lees vorige artikels
Afrikaanse musieklegende Prof. Chris Lamprecht (99) oorlede
Prof. Chris Lamprecth deur FAK vereer
Afrikaanse musieklegende vereer met fees
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’