GEORGE NUUS - Talle mense was Sondagmiddag, 16 Maart, die getuie van 'n baie besondere geleentheid toe een van die bekendstes in Afrikaanse musiekkringe, prof. Chris Lamprecht, deur die FAK vereer is.
Die 97-jarige oom Chris, wat deesdae in George woon, het die FAK Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot die bevordering van Afrikaanse kerkmusiek ontvang.
Die oorhandiging is waargeneem deur dr. Danie Langner, uitvoerende hoof van die FAK by die NG Moedergemeente in George.
Benewens oom Chris en sy vrou, Elza, was van sy familie waaronder, 'n dogter Lize van Niekerk, teenwoordig.
As deel van die geleentheid is 'n gewyde musiekprogram aangebied waaronder musiek wat deur oom Chris self gekomponeer is. Teen die einde van die geleentheid het aanwesiges roerend die bekende Aandgesang gesing terwyl oom Chris voor hulle in die kerk gestaan het. Die lied is deur hom gekomponeer.
Na die geleentheid moes hy bontstaan vir die talle wat hom gelukgewens het waaronder die bekende sangeres, Annelie van Rooyen.
Oom Chris het oor die jare diep spore in musiekkringe getrap. Hy het na die geleentheid gesê hy komponeer nog steeds en is baie dankbaar vir die toekenning.
Volgens Langner is oom Chris se loopbaan verweef in die FAK-sangbundel en talle van sy liedjies is daarin opgeneem. Vele geslagte het grootgeword met dié sangbundel.
Met hierdie toekenning word hy bedank vir die diep spore wat hy in die Afrikaanse musiekerfenis getrap het.
Barry Mller van die FAK, dr. Danie Langner van die FAK, Annelie van Rooyen, oom Chris Lamprecht, sy eggenoot Elzae, en sy dogter Lize van Niekerk. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’