GEORGE NUUS - In Heroldsbaai woon 'n toeganklike, vriendelike en nederige man met vele talente. Dié geliefde inwoner, prof. Chris Lamprecht, is Donderdag 25 Oktober deur die gemeenskap vir sy ongelooflike bydrae tot musiek vereer.
Prof. Lamprecht is op 1 Oktober 1927 gebore en het in sy lewe in Bloemfontein, Stellenbosch, Wenen, Herford in Duitsland en Pretoria as orrelis, koorleier, komponis, en verwerker van verskeie Afrikaanse kerk- en volksmusiek gewerk.
Hy het musiek toeganklik vir gewone mense gemaak en was lank hoof van die Universiteit Pretoria se musiekdepartement.
Ds. Floors Meyer, NG predikant van George-Suid, het by die geleentheid met prof. Lamprecht oor sy lewe gesels en Maggie Bodenstein, George se plaaslike nagtegaal, het van sy verwerkings gesing terwyl prof. Lamprecht haar begelei.
Ter erkenning aan sy groot bydrae het dr. Daan Botha 'n portret van prof. Lamprecht aan hom oorhandig. Sy vrou Elza, wat hom al 60 jaar ondersteun, is met 'n bos pragtige lelies bederf.
Dr. Daan Botha (links) het 'n portret van prof. Chris Lamprecht aan hom oorhandig. By hulle staan ds. Floors Meyer.
Artikel: Celestine Kruger
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'