GEORGE - Maandag 11 Januarie 2010 is vir die Didasko Bybelskool nie maar nog ‘n datum nie, maar verteenwoordig die verwesenliking van ‘n tienjaarlange droom - ‘n eie adres.
Daar was ‘n verstaanbare op-gewondenheid onder die sowat 20 rolspelers wat Maandag-aand in die Fairview Kantoorpark No 1 bymekaar gekom het om die nuwe lesinglokaal aan die Here toe te wy. "Ná tien jaar van ‘rondswerf’ het die Bybel-skool tuisgekom," sê die hoof, Willem Botha. "Voortaan sal die studente hulle lesings in ‘n modern-toegeruste lokaal, met sagte stoele, kan geniet!"
Toerusting vir lidmate
Toe die Didasko (Grieks: om te leer) Christelike Oplei-dingsentrum in 2000 tot stand gekom het, het dit ‘n groot be-hoefte aan die toerusting van "gewone" lidmate van die Christelike kerke in George aangespreek.
Sedertdien het meer as 400 studente die verskillende kursusse bygewoon, terwyl 87 Sertifi-kate in Bediening (na twee jaar se studie); 31 Diplomas in Bediening (na vier jaar se studie) en 3 B Min-grade toegeken is.
Eerskomende Maandag sal meer as 100 studente hulle stu-dies in die verstaan van, en lééf van die Bybel voortsit. Die Bybelskool rus mense uit verskillende kerke toe wat dit vir persoonlike verryking wil doen en terselfdertyd in hul bepaalde kerk / gemeente meer vir die Koninkryk van God wil beteken.
Die klasse word in Afrikaans aangebied, met die handboeke wat in òf Afrikaans òf Engels beskikbaar is. Studente het ‘n keuse of hulle wil eksamen skryf en ‘n kwa-lifikasie verwerf, of net klasse wil bywoon vir verryking.
Kwalifikasies erken
Die Nasionale Sertifikaat en Nasionale Diploma in Bediening word deur Christian Life Training (CLT) toegeken en onderskryf deur die internasionale organisasie Christian Quality Assurance (CQA).
Hierdie kwalifikasies word internasionaal erken, asook deur ver-skeie kerke in Suid-Afrika.
Eerstejaars
Vir die eerste keer sal die Bybelskool vanjaar in al vier die studiejare ‘n keuse van oggend- en aandklasse kan aanbied, omdat die fasiliteite nou beskikbaar is om dit te doen.
Eerstejaarstudente sal op òf ‘n Donderdagaand, òf Vrydagoggend klas draf, met die eerste lesings wat op Donderdag 21 Januarie om 19:00 begin. Oggendklasse begin om 09:00. Inskrywings moet so gou moontlik gedoen word.
‘Gap’-jaar
Verlede jaar het ‘n aantal post-matrikulante ook vir die kursus ingeskryf as deel van hul ‘gap’-jaar. Almal het twee aande per week klas bygewoon, wat beteken dat hulle tydens die Tienjaarfeesvieringsaand in November hul Sertifikaat in Bediening verwerf het.
Op Woensdagaande word lesings ook op Rheenendal aangebied in samewerking met vyf gemeentes van die omgewing, terwyl sewe kontaknaweke deur die loop van die jaar ook op Queenstown gehou sal word om ‘n Bybelskool op dié Oos-Kaapse dorp te help vestig.
KONTAKBESONDERHEDE
Willem Botha 083 338 0389
Kantoor: Tarentaalweg 12, Bergsig, George
Lesinglokaal:
Fairview Kantoorpark No 1, Eerstestraat, George.
www.didaskobybelskool.co.za
Die nuwe lesinglokaal by Didasko Bybelskool is baie gerieflik ingerig met moderne multimediatoerusting, gemaklike sitplekke en kombuisgeriewe. Hier verskyn ‘n groep van die Bybelskool se vriende wat die nuwe fasiliteit help ontwikkel het saam met die hoof, Willem Botha (voor) tydens die inwyding Maandagaand.