LANDBOU NUUS - Die beheerde slag van beeste in die Gouda-omgewing waar bek-en-klouseer (BKS) op 'n plaas in die Gouda-omgewing in Oktober bevestig is, kan nou begin.
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het 25 November as Dag 0 bevestig wat beteken dat die uitslag van die besmette kudde op die indeksplaas nou volgens die voorgeskrewe protokol kan begin. Dit sal plaasvind onder toesig van die departement en met streng biosekerheidsmaatreëls.
Dag 0 is die inentingsdatum en slagtings mag nadat 14 dae verloop het, op die voorwaarde dat geen nuwe aktiewe besmetting waargeneem word nie.
Volgens 'n verklaring van Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusenteorganisasie Wes-Kaap (RPOWK) op 10 Desember, was daar geen verdere uitbreking van BKS in die provinsie sedert die Gouda-geval nie. Alle ondersoeke toon dat die siekte steeds beperk bly tot die indeksplaas en die beheermaatreëls wat toegepas is, werk effektief.
Kwarantyn duur voort - tweede toetsresultate nog uitstaande
Plase binne die aangewese kwarantyngebied bly onder dieselfde beperkings totdat die tweede stel laboratoriumtoetse ontvang is. Hierdie toets is kritiek voordat enige opheffing van kwarantyn oorweeg kan word. Totdat die uitslae bevestig dat geen verdere risiko bestaan nie, bly alle plase binne die kwarantyn-sone onder kwarantyn.
Abattoir-registrasie nog hangende
Die akkreditasie van die geïdentifiseerde abattoir vir beheerde slagtings is reeds deur die Departement van Landbou oorweeg. Die fasiliteit moet aan streng vereistes voldoen voordat amptelike goedkeuring verleen kan word. Verdere koördinering vind plaas tussen die verantwoordelike Departemente en ander betrokke rolspelers. Registrasie van ? gekrediteerde abattoir is tans een van die hoofprioriteite.
Verkeermonitering -geen fisiese kontrolepunte nie
Provinsiale verkeer en die SAPD sal voortgaan om die gebied aktief te monitor. Alhoewel daar geen formele kontrolepunte ingestel gaan word nie, sal beide agentskappe sigbaar en operasioneel bly in die gebied. Die nakoming van BKS-protokol word deel van hul breër feesseisoen-operasionele plan geïntegreer.
Biosekerheid bly kritiek
AWK en RPOWK doen ? ernstige beroep op alle produsente, veevervoerders en rolspelers om nie hulle waaksaamheid te verslap nie. Biosekerheid moet op elke plaas, elke voertuig en by elke beweging van diere gehandhaaf word. Die behoud van streng biosekerheidsmaatreëls bly die doeltreffendste manier om te voorkom dat BKS versprei en om die Wes-Kaap se waardevolle rooivleisbedryf te beskerm.
Voorkomingsversoeke
• Elke plaas se biosekuriteit verskil en daarom is dit belangrik om met jou buurman te kommunikeer oor wat elkeen doen om jul omgewing te beveilig.
• Behalwe trokke wat plase betree, moet produsente ook die bakkies wat op die plaas rondry ontsmet.
• Dit is belangrik dat die arbeiders van die plaas ook ingelig en opgelei word oor die moontlike verspreiding van die siekte.
• Dit is belangrik dat daar gereelde kommunikasie is met die departementele veeartsenydienste in jou omgewing, sowel as private veeartse is.
• Maak gebruik van die vraelys om die regte dokumentasie in plek te kry.
Vorige artikels:
- Plaaslike boere skerp biosekuriteit op
- Gouda foot-and-mouth outbreak confirmed
- Bek-en-klouseer: Plaas in Wes-Kaap onder kwarantyn
- Southern Cape vets and farmers take lead with proposal on FMD control measures
- Streekgebaseerde bestuur vir bek-en-klouseer aangekondig
- Bek-en-klouseer se impak strek wyd
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’