GEORGE NUUS - Die minister van landbou, John Steenhuisen, het onlangs die dringendheid beklemtoon om Suid-Afrika se biosekuriteitskrisis, spesifiek die herhalende bek-en-klouseer-uitbrekings, aan te spreek.
Volgens die department van landbou is 'n totaal van 270 uitbrekings in vyf provinsies aangemeld sedert die jongste uitbrekings in 2024 begin het. Hiervan was 249 uitbrekings teen 14 Julie nog nie opgeklaar nie. Die mees onlangse uitbreking is in die Vrystaat aangemeld waar 'n plaas in die Kroonstad-area onder kwarantyn geplaas is.
KwaZulu-Natal word die ergste geraak met 191 uitbrekings waarvan 172 nog aktief is. Die Oos-Kaap het 40 aangemeld waarvan 38 steeds aktief is. Sedert Mei 2025, het Gauteng 32 uitbrekings aangemeld, Noordwes vier en Mpumalanga drie.
Willie Aucamp, die DA se woordvoerder vir landbou, het onlangs gewaarsku dat die nasionale kudde, en gevolglik voedselsekuriteit in die land, bedreig word.
Volgens dr. Riaan Putter, 'n plaaslike veearts wat met groot melkkuddes in die George-omgewing werk, is ongekontroleerde beweging van diere die grootste bedreiging en bron van kommer onder veeboere hier, veral beesboere, omdat die huidige uitbrekings onder beeste voorkom.
"Bek-en-klouseer is 'n uiters aansteeklike siekte. Dit vat net een ou wat 'n besmette skaap van Humansdorp af op sy agtersitplek vervoer om in George vir 'n troue of begrafnis te kom slag om die virus in te bring. 'n Mens kan nie elke voertuig deursoek wat inkom nie."
Hoewel die Tuinroete en die res van die Wes-Kaap 'n bek-en-klouseervrye gebied is, spring ons nie die impak van die uitbrekings heeltemal vry nie.
George Kuyler, een van George se voorste suiwelboere, sê hulle het begin voelers uitsteek na potensiële uitvoermarkte in reaksie op 'n wêreldwye aanvraag vir suiwel, maar omdat uitvoerbeperkings weens bek-en-klouseer vir die hele land geld, word hulle pogings gekniehalter.
Putter sê plaaslike vleisproduseerders ding mee met uitvoerpryse van die groot voerkrale in die noorde. As uitvoere in duie stort, sal die kleiner produseerders nie meer volhoubaar wees nie, want die plaaslike mark is nie groot genoeg nie. "Elke produsent, vleis of melk, word deur die situasie beïnvloed, so ons is maar bekommerd daaroor."
Dr Riaan Putter
Bossie Terblanche, voorsitter van die Outeniqualand-boerevereniging, sê melkproduksie kan val met tussen 50-60% wanneer die virus eers in 'n kudde posvat en 10-20% van die diere kan weens verminking uitgesit word.
"'n Mens is te bang om oor die grense te gaan koop, so daar is 'n plaaslike mark vir verse en goeie kwaliteit diere word gewoonlik plaaslik opgeraap."
Dit het ook 'n groot impak op die George-landbouskou. Corné Botha, skoupresident, sê hulle gee gehoor aan die landbouverenigings se versoeke om nie diere in te bring nie so hulle Jerseyskou kan vanjaar, soos verlede jaar, nie aangebied word nie.
"Ons wil nie verantwoordelik wees vir die inbring van 'n kiem wat 'n uitbreking kan veroorsaak nie. Vanjaar is dit die derde keer wat ons hierdeur geraak word. Dit het finansiële implikasies, want ons het borge hierdeur verloor."
Dr. Gininda Msiza, hoof van veeartsenydienste in die Wes-Kaap.
Komplikasies met uitvoere
Volgens die hoof van veeartsenydienste in die Wes-Kaap, dr. Gininda Msiza, het uitvoervoorwaardes aansienlik strenger geword sedert Suid-Afrika sy bek-en-klouseervrye status in 2019 verloor het.
Hierdie beperkings strek verder as vleis en lewende hawe, en sluit ook suiwel-produkte, dierevoer, gepasteuriseerde melk en selfs produkte soos voëlsaad in.
Uitvoerders moet ook voldoen aan meer omvattende vereistes ten opsigte van naspeurbaarheid, dokumentasie, verwerking en bewegingsbeheer. "Dit plaas 'n verhoogde las van nakoming en administrasie op produsente en reguleerders."
Hy sê uitbrekings van bek-en-klouseer word ook internasionaal beskou as 'n aanduiding van 'n land se veeartsenykundige bestuur. Gevolglik is daar 'n verskerpte soeklig van handelsvennote op Suid-Afrika se veeartsenydienste, wat handel verder bemoeilik.
In die George-distrik is praktiese maatreëls reeds in plek.
"Suiwelplase moet nou op die nasionale elektroniese sertifiseringstelsel registreer, en binnekort sal elke beweging van melk vanaf plase aangeteken en verantwoord moet word om die uitvoerketting te beveilig.
"Daarbenewens vereis sommige lande nou sertifisering vir dierevoer wat vanaf Suid-Afrika uitgevoer word, wat ouditering en inspeksies van voerprodusente en voervragmotors wat die streek vir uitvoerdoeleindes verlaat, noodsaak," sê Msiza.
Willie Aucamp, die DA se woord-voerder vir landbou. Foto: Facebook
Entstowwe uit Botswana
Suid-Afrika voer entstof teen bek-en-klouseer van Botswana af in. Volgens Willie Aucamp, die DA se woordvoerder vir landbou, het die Landbounavorsingsraad (LNR) nagelaat om 'n bek-en-klouseer-entstofaanleg te bou waarvoor fondse 'n dekade gelede al toegeken is.
As gevolg daarvan het uitvoere verlore gegaan en landelike ekonomieë skade gely. Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) voldoen ook nie aan sy entstofproduksieteikens nie en bestuur daar bly onstabiel.
"Die risiko's wat uitbrekings soos die huidige bek-en-klouseer-uitbreking inhou vir voedselsekuriteit en werkgeleenthede in ons land, het weereens vir ons gewys hoe belangrik dit is om hierdie entstofvervaardigingsaanlegte dringend te voltooi."
Dr. Riaan Putter, plaaslike veearts, sê inenting is baie effektief, maar die probleem daarmee is dat daar nie onderskeid getref kan word tussen teenliggaampies wat deur natuurlike infeksie veroorsaak is en dié wat deur inenting ontstaan nie.
"Dus, as jou kudde ingeënt word, word jou diere onder dieselfde kam geskeer as 'n kudde wat deur die virus besmet is, en dit het 'n impak op uitvoere."
Die Wes-Kaap is vry van bek-en-klouseer en die provinsiale land-boudepartement vra alle veeboere se samewerking om dit so te hou. Foto: Alida de Beer
Die Wes-Kaapse departement van landbou beveel aan dat boere slegs diere van betroubare bronne aankoop en, waar moontlik, aankope van provinsies waar uitbrekings aangemeld is, vermy. Vir elke besending lewende hawe moet 'n veeartsverslag verskaf word wat die diere se gesondheid bevestig en wat onderteken is deur 'n privaat veearts wat die kudde gereeld besoek en behandel.
Die nuwe diere moet na aankoms op die plaas vir ten minste vier weke geïsoleer word, voordat hulle by die res van die kudde ingeskakel word.
Die departement het gewaarsku teen die risiko van veilings. Die siekte kan ook deur voer en voertuie versprei word.
Dr. Leana Janse van Rensburg, staatsveearts in die distrik, sê plaaslike veilings word meestal deur BKB aangebied wat die risiko ernstig opneem en die vereiste maatreëls toepas. "Die belangrikste is dat ons bewusmaking skep. Ek glo die meeste boere is versigtig. Hulle weet die risiko is groot."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’