Update
GEORGE NEWS - Die 25-jarige Shaun Matthews wat Saterdag op sy fiets in Rosedale Mainstraat gesterf het, was ’n diereliefhebber, ’n ware vredemaker en baie geliefd in sy familie en in die woonbuurt rondom Rebeccastraat waar hy saam met sy ouers en sibbe gewoon het.
Sy skielike dood in ‘n padongeluk om ongeveer 12:30 waarby ’n trok betrokke was, het sy gesin en die gemeenskap in skok gelaat. Hy was op pad uit Rosedale uit om vir sy ma te gaan geld trek.
Die fiets waarop hy gery het, het hy nie lank gelede nie as ‘n geskenk van ’n kliënt van sy ma, Charlotte, ontvang.
Sy pa, Simon, vertel die skokkende tyding het per telefoon van ’n kollega van Charlotte af gekom. Hy was tuis by hul huis op daardie stadium en ’n vriend het hom na die ongelukstoneel geneem. “Toe ons daar aankom, was hulle besig om sy liggaam toe te maak. Ek het net sy gesig gesien,” vertel hy.
Toe hy tuiskom en op die bank gaan sit en huil, was Jessica, Shaun se geliefde hond, daar by sy voete. Sy soek haar baas nou oral.
Shaun het sewe maande gelede by Grow Green Organics in die komposafdeling begin werk. Hy was hardwerkend en het graag gedien, vertel sy ma. Wanneer hy tuis was, sou hy besig raak deur tuinwerk vir bure in die omgewing te doen, sonder om betaling of enigiets terug te verwag.
Charlotte sê die eienaar van die buurtwinkel, waar Shaun soms gaan uithelp het, wou niemand anders vertrou om in sy winkel skoon te maak nie. “Dit was Shaun se werk alleen. Baie van my kliënte vir wie hy ook tuinwerk gedoen het, was mal oor hom.”
Sy fiets is aan hom geskenk na die dood van ’n kliënt. “Die kliënt se seun het ons gekontak en gesê dit was sy pa se wens dat Shaun die fiets moet kry.”
Shaun was net so geliefd in sy vriendekring. ’n Klompie vriende het vir hom ’n klein wit kruis by die ongelukstoneel in Mainstraat opgerig.
Shaun Matthews
Charlotte sê haar seun het elke oggend met ’n bly gemoed opgestaan. “Hy het op die bank in die sitkamer geslaap. As iemand in die huis kwaad word, het hy altyd vriendelik gebly en die gevoelens probeer kalmeer.
"Hy was ’n staatmaker en sou altyd ’n plan maak. As ek stres oor geld, dan gaan koop hy krag of as hy sien die koskaste is leeg, kom hy hier aan met twee pakke aartappels en rys. Ons gaan hom ontsettend baie mis. Hy laat ’n groot leemte in ons lewens.”
Shaun was ’n leerder van Pacaltsdorp Primêre Skool voordat hy sy hoërskoolloopbaan aan Olympiaskool voltooi het. Hy was die derde oudste van vier broers. Die een broer, Selwyn, is ‘n bekende hardloper van die Nedbank-hardloopklub wat tallose medaljes as atleet agter sy naam het.
Selwyn sê wanneer hy soggens vyfuur gaan draf, het Shaun homself reggemaak vir werk. “Of hy het net uitgekyk en vars lug geskep. Ek verwag dat ek hom enige oomblik gaan sien, dat hy nog gaan huis toe kom en vir my iets gaan kom sê of sy music box gaan kom haal om alleen buite te gaan sit en chill. Ons gaan hom baie mis, sy vriende en al die mense by wie hy soms net gaan sit en gesels het.”
Shaun laat sy ouers, broers Cheslin, Selwyn en Sueleiman, en sy suster Simone agter. Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.
Shaun se ouers, Charlotte en Simon, sy ouer broer Selwyn en hul jongste boetie, die laatlam van die gesin, Sueleiman. Foto: Alida de Beer
Lees 'n vorige artikel:
Cyclist dies in road accident in Rosedale
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’