LANDBOU NUUS - Boere moet nou meer as ooit paraat wees en sorg dat hul biosekuriteitsmaatreëls in plek is. So sê dr. Muller Strydom van die George-dierehospitaal, na aanleiding van die bek-en-klouseer-uitbreking in die Gouda-omgewing. Die geval is op Vrydag 7 November deur die Wes-Kaapse Veeartsenydienste bevestig.
"Ons is baie bekommerd en teleurgesteld. Gelukkig is daar vinnig opgetree. Dit beklemtoon net weer die dringendheid om almal van belang op 'n gereedheidsvlak te kry.
"Ek is besig om kontakbesonderhede van alle belanghebbendes bymekaar te kry sodat almal dadelik gemobiliseer kan word in geval ons 'n uitbreking hier kry."
Volgens die Wes-Kaapse departement van landbou is die Gouda-plaas onder kwarantyn saam met twee ander eiendomme in die Velddrif- en Bredasdorp-omgewing vanwaar die beeste vermoedelik na Gouda verskuif is. Alle eiendomme met gespletehoefdiere binne 'n 10 km-radius van die geaffekteerde gebied is ook onder kwarantyn geplaas en ondersoeke en monitering deur veeartsspanne duur voort.
Henry Meyer, Tuinroete-verteenwoordiger van Agri SA, het by navraag gesê Agri Wes-Kaap het al verlede jaar begin voorberei vir moontlike uitbrekings. "Ons wil elke boer versoek om hulle eie biosekuriteit op te skerp.
"Ek is positief dat die uitbreking darem baie beter beheer sal word as wat dit in die Oos-Kaap die geval was waar die landboudepartement nie behoorlik funksioneer nie en waar nie vinnig genoeg opgetree is nie.
George se melkprodusente
"Die George-omgewing is een van die mees intensiewe melkproduserende gebiede in die provinsie met in die omgewing van 27 000 beeste. Ons wil nie sien dat dit hier posvat nie.
"Ons doen 'n beroep op alle boere en produsente om by georganiseerde landbou aan te sluit om kommunikasie en koördinering te vergemaklik. Op die oomblik gebruik ons elke moontlike kanaal om inligting te versprei, ook plaaswag- en gemeenskapsgroepe. Inligting word ook aan polisiestasies versprei."
Die departement van landbou ondersoek ook die vervoermaatskappy wat die beeste vervoer het en is verder besig om al die eiendomme wat in die afgelope 30 dae met die maatskappy kontak gehad het, op te spoor en te inspekteer.
Die simptome van BKS manifesteer die ergste in melkbeeste. Volgens dr. Anthony Davies van die Humansdorp-veeartsenykliniek wat die uitbreking in die Oos-Kaap beleef het, ly melkbeeste die ergste as gevolg van uitermatig pynlike simptome wat emosioneel traumaties is om te aanskou.
Verspreiding deur varke
In antwoord op vrese dat loslopende varke die BKS-virus maklik kan versprei, het George se staatsveearts, dr. Leana Janse van Rensburg, gesê die tipes virusse wat tans infeksies veroorsaak, is meer beesspesifiek.
"Sover het dit nog nie tydens uitbrekings in die land deur varke versprei nie. Die enigste geval waar varke positief getoets is, was waar melk van geïnfekteerde beeste aan die diere gevoer is. Daardie varke is geslag om verdere verspreiding te voorkom."
In die geval van die Gouda-uitbreking, is beeste van 'n voerkraal na die Vrystaat vervoer, waar BKS in die diere opgetel is. Janse van Vuuren sê daar kon nog nie vasgestel word waar die beeste oorspronklik vandaan kom nie, maar ondersoeke duur voort.
"Boere word versoek om van die Elsenburg Animal Movement-toep gebruik te maak wanneer hulle beeste, skape, varke of bokke wil skuif.
"Die toep genereer die nodige vorms wat hulle moet invul in terme van dieregesondheid en dit stel ons ook in staat om die beweging van die diere te volg en op 'n kaart te plot."
Wes-Kaapse Veeartsenydienste het alle eienaars van lewende hawe versoek om nie enige gespletehoefdiere te skuif terwyl die omvang van die uitbreking vasgestel word nie. Terugvoer van die departement oor die impak van die uitbreking op uitvoere van sekere diereprodukte uit die Wes-Kaap word afgewag.
Lees vorige artikels:
- Gouda foot-and-mouth outbreak confirmed
- Bek-en-klouseer: Plaas in Wes-Kaap onder kwarantyn
- Southern Cape vets and farmers take lead with proposal on FMD control measures
- Streekgebaseerde bestuur vir bek-en-klouseer aangekondig
- Bek-en-klouseer se impak strek wyd
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’