LANDBOU NUUS - Die minister van landbou, John Steenhuisen, het 'n nuwe streekgebaseerde bestuursmodel aangekondig vir die huidige bek-en-klouseer-uitbreking. Daarmee wil hy verhoed dat plaaslike uitbrekings die internasionale handel in die suiwel- en vleisbedryf tot stilstand bring.
"Een van die gevolge van die uitbreking wat die grootste skade aangerig het, was ons onvermoë om die ekonomiese nadraai te beperk.
"Omdat Suid-Afrika geen funksionele streekraamwerk het nie, is die hele land deur die oë van ons handelsvennote gepenaliseer, ten spyte daarvan dat die uitbreking beperk was tot spesifieke plaaslike gebiede."
Steenhuisen het die voorgestelde bestuursmodel in sy openingstoespraak aangekondig by die Bek-en-klouseer Indaba op 21 Julie wat hy byeengeroep het. Dit is gehou by die Landbounavorsingsraad se opleidingsfasiliteit.
Hy het gesê: "Elke geloofwaardige handelsnasie in die wêreld verstaan die beginsel van streekkontrole - dat 'n uitbreking in een deel van 'n land nie tot algehele handelsbeperkings vir die hele land moet lei nie. Suid-Afrika is egter steeds ver agter in die daarstelling, sertifisering en instandhouding van siektebeheer-sones wat deur ons internasionale vennote erken kan word."
Bossie Terblanche
Outeniqualand
George Herald het verlede week berig oor die impak van die bek-en-klouseer-uitbreking op 'n onaangetaste gebied soos die Tuinroete en Wes-Kaap wat onder dieselfde kam geskeer word as provinsies waar uitbrekings plaasvind.
Bossie Terblanche, voorsitter van die Outeniqualand-boerevereniging, het in reaksie op die streekgebaseerde model gesê dit is die "regte roete".
"Jy gaan baie vinniger reaksie kry wanneer streekbeheer toegepas word, as wanneer inligting provinsiaal of nasionaal gestuur word. Om die inligting daar te kry, verwerk te kry en dan terugvoer te kry van nasionale vlak, kan als vertraag.
"Die enigste kwelvraag op die oomblik rondom 'n streekgebaseerde model is die bekwaamheid en beskikbaarheid van personeel op streekvlak.
"Selfs op provinsiale vlak in die Wes-Kaap weet ek sukkel hulle om sekere poste gevul te kry. Indien die bekwame personeel daar is, is ons van georganiseerde landbou se kant af definitief daarvoor."
Tot die uiterste beproef
Steenhuisen het gesê die regeringstrukture is tot die "uiterste beproef" deur die huidige uitbreking en daar was 'n kommerwekkende gebrek aan gereedheid op verskeie vlakke van die regering - ernstige kommunikasiebreuke, vertragings in die beskikbaarheid van entstowwe en verwarring oor bewegingskontrole.
Die verouderde strukture en gefragmenteerde gesag is nie meer genoegsaam om die bestuur van bek-en-klouseer op die langtermyn te stabiliseer nie. "Ons benodig 'n innoverende benadering - een wat wetenskapgebaseer is, in ooreenstemming is met die Grondwet, en prakties uitvoerbaar is."
John Steenhuisen
Hy het twee senior veeartse aangestel, met onder meer ondervinding in internasionale handel, om die ontwikkeling van die nuwe raamwerk aan te voer. Hulle moet streeksones vir die hoofveesektore definieer en operasioneel kry in samewerking met die industrie. Hulle moet ook provinsies ondersteun in die opneem van hulle verantwoordelikhede rondom siektebeheer, asook interdepartementele vermoë versterk om in- en uitvoeraansoeke vinnig en effektief te verwerk.
Entstowwe
Nog 'n gebied waarop die stelsel gefaal het, was die beskikbaarheid van entstowwe omdat die nasionale entstofbank uitgeput was en die Landbounavorsingsraad (LNR) nie oor die infrastruktuur beskik om entstowwe teen die vereiste skaal te lewer nie.
Steenhuisen het gesê die regering is besig om kontrakte vir invoere te bewerkstellig sodat minimum voorraadvlakke vir bek-en-klouseer- en ander prioriteitsentstowwe verseker kan word.
Befondsing vir voerkampe, abattoirs
Hy het ook aangekondig dat fondse toegewys sal word vir die daarstelling van voerkampe en abattoirs in die beskermde sones, veral in Limpopo, KwaZulu-Natal en Mpumalanga. Dit sal pogings versterk om kontrole oor die beweging van diere af te dwing.
Steenhuisen het 'n beroep op die privaat sektor gedoen om te help met finansiering vir die verkryging van entstowwe.
Beleggings deur die privaat sektor is ook nodig vir wetenskaplike navorsing om die verspreiding van dieresiektes te beperk en die toenemende uitdagings van klimaatsverandering aan te spreek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’