GEORGE NUUS - Die musikale driemanskap van Dalene Brits (klavier), Ruan van der Vyver (fluit) en Calvin Steyn (viool) het 'n luilekker Sondagmiddag in George onverwags omskep in 'n musikale fees vir die oor.
Danksy die sensitiewe en ondersteunende klavierspel van Brits, kon die twee jonger musikante hul beste lewer in 'n interessante program vol afwisseling in luim en klank.
Die té kort program het bestaan uit werke van JS Bach (Trio Sonata in G), Le Claire (Vioolsonata in D), F Kuhlau (Trio vir klavier, fluit en viool). G Fauré (Fantaisie Op 79) en F Doppler (Duettino: Amerikaanse Nasionale Liedere).
Al drie is "plaaslike musiekprodukte" - Brits en Van der Vyver van die Universiteit van Kaapstad en Steyn van Stellenbosch.
Spel het gewissel van die melancholiese soos in die werk van Fauré, na speels en naturalisties in Kuhlau se werk. Hierdie komponis is seker aan alle aspirant-musici meer bekend vir sy klavierstudies - altyd deel van musiekonderrig waarmee éérs afgereken moet word voordat 'n mens kan vorder na Mozart en Beethoven se moeiliker werk.
Dit het die komponis dalk heeltemal onregverdig die reputasie gegee van musiek wat 'n mens in 'n stadium klaar gespeel het. Die moeitelose en spontane musiekklanke van die verhoog af, het 'n mens egter laat vermoed dat dit die teendeel dalk waar is - dat dit straks baie inspanning verg om dit so gemaklik te laat klink en te lyk.
Die drie het egter voortreflik daarin geslaag om die toon en tempo tussen soet slepende melodie en helder, onnutsige speelsheid duidelik te laat skyn.
Die vertolking van Fauré se werk het op sy beurt reg laat geskied aan 'n veel digter tekstuur en ernstiger werk. Dikwels het die swewende impressionistiese klank hierin 'n mens herinner dat die komponis sterk onder die invloed van Saint-Saëns was. Laasgenoemde was eers sy lektor en later ook 'n lewenslange vriend van Faure.
Ons hoop om in die toekoms meer van die trio se musiek te hoor - hierdie was hopelik maar net 'n aptytwekker!
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'