GEORGE NUUS - Een van die SWD se tennislegendes wat diep spore in hierdie sportsoort getrap het, Danie Brink, is verlede week skielik oorlede.
Die 82-jarige Brink, wat in Van Rhynsdorp gebore is, was in Port Elizabeth toe hy in sy slaap gesterf het.
Die lewenslustige Brink was ‘n geesdriftige tennisspeler en -afrigter. Hy het op 11-jarige ouderdom begin tennis speel en het Suid-Afrika op 60-jarige ouderdom vir die eerste keer verteenwoordig.
Daarna was hy vir 17 jaar lid van die Suid-Afrikaanse veterane-tennisspan wat in verskeie lande gespeel het en was vir baie jare die topgekeurde in sy ouderdomsgroep.
Hy was sedert 1997 ‘n erelid van die Knysna-tennisklub sowel as die SWD-tennisvereniging. Hy was tot sy dood tennisafrigter by die Laerskool Knysna sowel as die Hoërskool Knysna.
In Desember 2008 was hy een van die sportmanne wat deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport as sportlegende vereer is.
Brink het ook ‘n groot liefde vir musiek gehad en die kitaar goed bespeel. Hy het nooit daarsonder na tennistoernooie gereis nie.
Hy het as stokperdjie erdwurms geteel, kompos gemaak en organiese groente ge-kweek wat hy ook aan restaurante verskaf het.
Volgens me. Debra Hyde, ‘n bestuurslid van die SWD-tennisvereniging was Brink ‘n ware ambassadeur vir tennis in Suid-Afrika en die buiteland.
"Veterane-tennis sal oom Danie mis vir sy vriendelikheid en spitsvondigheid," het Hyde die week gesê.
Hy word oorleef deur sy vrou, Alice, seun André, en vier dogters, Jean, Beth, Ethne and Diane.
‘n Roudiens word Vrydagoggend om 11:00 in die NG Kerk op Knysna gehou.
Posted on: 13:20 Wed, 15 September 2010
Your Comments
Confirmed Covid-19 cases in Garden Route District: