Update
GEORGE NUUS - Crusaders, die klub wat die meeste geraak word deur die uitstel van die halfeindwedstryde in die Super liga wat Saterdag 28 Oktober op Outeniquapark beslis sou word, sê dis ontwrigtend.
Ben Brinkhuis, president van SWD-rugby, het laat Woensdagmiddag bevestig dat die wedstryde uitgestel is. Dit is omdat die weervoorspelling dui op 'n 100% kans vir reën in George. Dit sal nou op 4 November plaasvind.
Kevin van Wyk president van Crusaders, het vanoggend 26 Oktober gesê die uitstel is baie ontwrigtend. Die klub se A, B en C spanne sou teen onderskeidelik Groot-Brakrivier, Progress en Blanco gespeel het.
Hy het tong in die kies gesê: “Ek is ‘n gedwee onderdaan van die unie.”
Hy het benadruk Crusaders berus by die unie se besluit. “Ons is gereed vir die wedstryde. Ons het alles gedoen wat ons moes doen vanjaar en ons sal by die wedstryd wees.”
Bevin Fortuin, afrigter van Blanco, het gesê dis ‘n baie lang seisoen. Daar moes al voorheen wedstryde uitgestel word. Blanco het nie veel van ‘n keuse as om te berus nie.
“Die C-span spelers het baie hard gewerk. Ek wil ‘n pluimpie vir die spelers gee hoe hulle die situasies vanjaar hanteer het. Ons sal gereed wees vir die wedstryd.”
*Dit raak nie die wedstryde wat in Oudtshoorn beslis gaan word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’