GEORGE NUUS EN VIDEO - Die SWD Arende het die week 'n stukkie goud gekry. Gary Gold, 'n baie bekende in Suid-Afrikaanse rugby-afrigtingskringe en tans afrigter van die VSA se nasionale span, het die afgelope paar dae kom hand bysit met afrigting op Outeniquapark.
Gold is op die oomblik met vakansie in Suid-Afrika en is 'n goeie vriend van Anton Moolman, die hoofafrigter van die SWD Arende.
Gold was onder meer in 2011 assistent-afrigter van die Springbokke by die Wêreldbeker en in 2019 afrigter van die VSA se span by dieselfde geleentheid.
Moolman rig sedert Februarie die SWD Arende af. Die span is op die oomblik hard besig om gereed te maak vir sy wedstryde die seisoen.
Die span speel môremiddag, 18 Maart, teen die OP Olifante in Plettenbergbaai en op 1 April sy eerste ligawedstryd in die eerste divisie van die Curriebekerreeks teen dieselfde span.
Gold en Moolman se rugbyvriendskap kom al meer as 30 jaar aan. Hulle het ook al saam gespeel en afgerig.
Dinsdag na 'n oefensessie van die Arende het Gold aan George Herald gesê Moolman het hom onlangs gekontak en wou by hom hoor of hy nie vir 'n paar dae wil kom kyk hoe dinge hier lyk terwyl hy in Suid-Afrika is.
"Dis vir beide van ons voordelig. Mens hou nooit op om te leer nie."
Hy hou van afrig en gebruik die geleentheid om te kom help terwyl hy vir 'n rukkie nie verpligtinge in Amerika het nie. Gold is baie beïndruk met wat hy hier gesien het.
SWD het talent en hy twyfel nie aan Moolman se afrigtingsvermoë nie.
VIDEO: Arende kry goud:
Dis ook duidelik dat die afrigtingspan daarin geslaag het om 'n professionele opset te vestig onder redelike moeilike omstandighede.
Hy het benadruk sy besoek was nie om "advies" te gee nie en hy het gehelp met die fynere detail soos die vaste fases. Dit sluit in rolmaalbewegings, lynstane en skrumtegnieke.
Moolman en hy het saam na 'n aantal video's van die spel gekyk en idees uitgeruil. Hy het self baie goeie idees by Moolman gekry.
Moolman het gesê Gold kon van buite kyk en vir hom terugvoering gee oor hoe hy dinge doen.
Volgens hom verloop die voorbereidings vir die seisoen goed. 'n Groep spelers is saamgestel en die span sal nog gefinaliseer word.
Sedert hy die pos aanvaar het, het hy bepaalde indrukke.
Dit sluit in dat George 'n rugbyplek is. Hy is baie beïndruk met die steun van die unie en ook die spel van die klubs en skole.
Dis vir hom opvallend hoe rugby hier omarm word en 'n leefstyl is. Sy waarneming is dat hier talent en 'n positiewe energie is. Die spelers werk ook hard.
Anton Moolman, afrigter van die SWD Arende en Gary Gold, afrigter van die VSA se nasionale span Dinsdag op Outeniquapark. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'