GEORGE RUGBYNUUS - Rugbykoors het miljoene ondersteuners wêreldwyd in sy greep in afwagting van die Wêreldbekertoernooi wat Vrydag in Japan afskop.
In George wag 'n dubbele dosis rugbyvreugde dié naweek op plaaslike rugbyondersteuners, mits jóú span natuurlik aan die wenkant is.
Wanneer Suid-Afrika en Nieu-Seeland se rugbyspanne in die Wêreldbekertoernooi teen mekaar speel, vervaag die belang en aantrekkingskrag van omtrent alle ander sport natuurlik. Dié voorgereg skop om 11:45 af.
Oorleef ondersteuners dié bulstryd, wag die Mic Fin Premierliga-eindstryd tussen Evergreens en Crusaders om 18:00 op Outeniquapark.
Wat tussen die vier gekalkte lyne en die 30 spelers in albei wedstryde gaan uitspeel, lê nie in rugbyondersteuners se hande nie.
Die bal is nou letterlik en figuurlik in die spelers se hande ... en mag die rugbygode intree en verhoed dat hulle nie die bal laat val nie.
Wees van een ding seker: beide die Bokke se stryd teen die magtige All Blacks sowel as die Premierliga-eindstryd gaan in alle waarskynlikheid 50/50-toetse wees.
Die klipharde Llewellyn Treurnicht sal Evergreens Saterdag in die Mic Fin Premierliga-eindstryd op Outeniquapark aanvoer.
Nie een van die vier spanne kan daarop aanspraak maak dat hulle as gunstelinge opdraf nie, want enige span kan wen.
Elke span sal sy kanse met albei hande moet aangryp.
Wen die Bokke, sal beide Crusaders en Evergreens met ekstra woema en motivering opdraf.
Nie dat die Suid-Kaap se twee topklubs enige motivering nodig het nie.
Daarvoor is daar te veel op die spel.
Albei spanne het hul halfeindstryde sonder enige ernstige beserings voltooi.
Evergreens het Progress met 16-11 uitgeskakel terwyl Crusaders die besoekende Heidelberg se bekerdrome met 21-11 gekelder het.
Nie een van die twee hoofafrigters wou te veel verklap oor hulle planne vir die eindstryd nie.
Albei spanne het dié seisoen twee keer teen mekaar gespeel.
Layle Delo, gesoute stut en kaptein van Crusaders, op een van sy kenmerkende kraglopies. Sy ervaring kan goud werd wees vir Crusaders in Saterdag se Premierliga-eindstryd teen Evergreens op Outeniquapark. Foto's: Hugo Redelinghuys
Evergreens was baas op sy tuisveld terwyl Crusaders die bordjies op Parkdene verhang het.
Evergreens is 'n gesoute Premierliga-kampioen en het die titel in 2012, 2014, 2015 en 2016 gebuit en in 2017 teen Progress in die halfeindstryd vasgeval. Maar van sy bulspan van 2017 is net twee spelers oor en goed sewe van sy topspelers het na Crusaders uitgewyk.
Evergreens het vanjaar dus afgeskop met 'n relatiewe jong en onervare span, maar na 'n aanvanklike gestotter sy voete gevind en gaandeweg sy pad na die bo-punt van die puntelys oopgespeel.
Vir Crusaders, wat sy beste seisoen beleef sedert die klub se stigting 16 jaar gelede, is sy eerste eindstryd vir hom 'n "nuwe speelveld" wat hy betree.
Hou die senuwees, kan Crusaders vir Evergreens skok. Parkdene se bestes het vanjaar 19 van hul ligawedstryde gewen, net drie verloor en welverdiend bo-aan die punteleer geëindig. Wat in sy guns tel, is die sterk en ervare groep leiers in die span. Altesame agt van hulle wat daar is om die jonger spelers in 'n drukkokersituasie van 'n eindstryd kalm te hou. Dis makliker om op 'n koord oor die Grand Canyon te loop as om 'n wenner hier te voorspel.
Ysere dissipline, koelkopbesluite, 'n hoë werkverrigting en dodelike verdediging kan 'n span, ná 'n lang en uitmergelende seisoen, laat seëvier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'