Update
GEORGE NUUS - Die SWD Arende sal nie meer die naweek teen die Boland Kavaliers speel nie. George Herald het kort gelede amptelike bevestiging uit rugbygeledere gekry dat die wedstryd uitgestel is.
Die Arende was veronderstel om môre of Saterdag in ‘n halfeindstryd in die Mzansi-reeks te speel. Na verneem word is die wedstryd tot ‘volgende week’ uitgestel. Dis nie bekend presies wanneer nie.
Dit bring vir eers ‘n einde aan die onsekerheid van die afgelope paar dae wat gekenmerk is deur drama af van die veld.
Eers was daar onsekerheid wie die Arende se teenstanders gaan wees. Duidelikheid daaroor is eers Dinsdagaand verkry.
Toe is daar gewag vir ‘n wedstrydtyd. Vir die Arende is dit ‘n tuiswedstryd en dit is bekend dat die Arende reeds môre wou speel.
Verwarring het ook ontstaan oor wat sou gebeur as die wedstryd Saterdag sou plaasvind want daar is reeds ander wedstryde wat Saterdag op Outeniquapark moet plaasvind.
Sover vasgestel kon word is daar die afgelope klompie ure baie agter die skerms oor die aangeleentheid gepraat en dis toe vandag op die spits gedryf.
Vorige artikel: Kom maak Outeniquapark groen
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’