GEORGE NUUS - Die Hervormde Gemeente Outeniqua het op Sondag 20 September die stigting van die gemeente in 1976 herdenk. Die gemeente is op 26 September 1976 gestig.
Die gemeente se predikante het elk ’n gedeelte van die erediens waargeneem, terwyl die musiek onder leiding van Annalie Praekelt, saam met ’n ensemble van viool, trompet en fluit, ’n besondere bydrae tot die geleentheid gelewer het.
Ds. Pierre Jacobs se prediking het gefokus op Hebreërs 11 en die skare geloofsgetuies wat die pad vooruit gegaan het. Hy het benadruk dat die gemeente, met die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, vorentoe moet beweeg en tot eer van die Here moet leef.
Slegs vier jaar nadat die gemeente gestig is, het Gemeente Outeniqua in 1980 ’n doelmatige kerkgebou in gebruik geneem.
Die gemeente het oor die jare in getalle gegroei. Onder leiding van ds. Ferdie Nortje is verskeie bouprojekte voltooi, wat daartoe gelei het dat die gemeente vandag oor doelmatige fasiliteite beskik.
As deel van die 50-jarige herdenking is die liturgiese ruimte gedurende 2026 nuut ontwerp en opgegradeer. Dit sluit die installering van ’n kansel in wat uit die 19de eeu dateer en wat oor die jare in verskillende gemeentes van die Hervormde Kerk diens gedoen het.
Die kansel, asook die monument by die ingang van die kerkgebou, dien as ’n blywende herinnering aan die stigting van Gemeente Outeniqua en as ’n getuienis met die oog op die toekoms.
Die geskiedenis van Gemeente Outeniqua is ’n verhaal van ’n klein begin en volhardende geloof. Die gemeente het oor die jare gegroei tot een van die grootste gemeentes in die Hervormde Kerk.
Die gemeente eer die voorgeslagte wat met harde werk en dapperheid daaraan gewerk het om Gemeente Outeniqua, tot eer van die Here en met Sy hulp, te vestig en uit te bou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’