Video
OPVOLG 8 JUNIE - Die SWD Arende sal nie meer die naweek teen die Boland Kavaliers speel nie. George Herald het kort gelede amptelike bevestiging uit rugbygeledere gekry dat die wedstryd uitgestel is.
GEORGE NUUS EN VIDEO - As jy enigiets groen in jou klerekas besit, trek dit aan en ruk die naweek op na Outeniquapark om die SWD Arende te ondersteun wat 'n tuis halfeindstryd in die Mzansi-reeks teen Boland speel.
Teen spertyd was dit nog nie duidelik of die wedstryd Vrydag of Saterdag plaasvind nie. Dit sal later bekendgemaak word. Hou gerus die webtuiste van George Herald en SWD-rugby dop.
In sekere rugbygeledere is daar vrae hoe dit van die klubs se verpligtinge gaan raak as die Arende se wedstryd Saterdag plaasvind.
Dit kom teen die agtergrond van aanvanklik baie onsekerheid wie die Arende se teenstanders sou wees. Die Arende het eers Dinsdagmiddag laat gehoor dis Boland.
Dis seker nie te vergesog om te sê dis sover die belangrikste wedstryd vir die Arende vanjaar. As die span wen is hy deur na die eindstryd. Die span se drome in die eerste divisie van die Curriebekerreeks is ongelukkig aan skerwe.
Teen laat Maandagmiddag was dit nie duidelik wie die Arende se teenstanders gaan wees nie. Anton Moolman, hoofafrigter van die Arende, was toe om verstaanbare redes, erg ontstoke. Hy was hard besig met beplanning vir die wedstryd, want wie die span se teenstanders is, raak hul voorbereidings.
Dit het egter nie die span van koers gebring nie. "Ons sien uit na die wedstryd."
Hy het erken dat die onlangse afstel van die wedstryde teen Zimbabwe en Kenia hul raak. "Ons sou verkies dat dit plaasgevind het. Dit sou van die jong spelers kans gegee het. Ons wil begin bou vir aanstaande jaar."
Moolman het benadruk die span se fokus is nou op die komende wedstryd. "Ons oë is op die prys. Ons weet hoe ons wil speel."
Hy het die publiek gevra om die span te kom ondersteun.
In die geheel gesien is hy tevrede met die verloop van die seisoen. As die span die halfeindstryd wen, dan het hy 'n beter rekord as verlede jaar.
Janneman Stander, kaptein van die Arende, het Dinsdag gesê die span sien baie uit die wedstryd.
Die span het Dinsdagoggend weer geoefen. "Daar is 'n goeie gees in die span. Ons vat dit nou wedstryd vir wedstryd."
Goeie nuus vir die Arende en Moolman is dat sy kontrak as afrigter verleng is tot na die Curriebekerreeks in 2024.
Van die Arende op Outeniquapark.
Moolman het ook aangedui dat 'n vriendskaplike wedstryd teen die Stormers weer vir later vanjaar in George beplan word.
Dit sal waarskynlik in Oktober plaasvind.
Die SWD Eagirls speel Saterdag 10 Junie teen die Valke se vrouespan. Dit is 'n wedstryd in SARU se Vroue 1ste Divisie Kompetisie. Die wedstryd is op Outeniquapark. Die afskoptyd is 12:30.
Van die Arende en die afrigterskorps Maandagmiddag op Outeniquapark. Foto's: Eugene Gunning
VIDEO: Arende is reg
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’