Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging Opedag en Eko-Safari tydren
Wednesday, 21 August 2013, 13:52
SUID-KAAP NUUS - Lede en vriende van die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging word uitgenooi na die jaarlikse Opedag wat plaasvind op Saterdag, 14 September, op die Wouter De Vos Skietbaan en opleidingsterrein naby Klein-Brakrivier.
Tydens hierdie geleentheid word daar ook vir die eerste keer ‘n Eko-Safari tydren aangebied. Dit is ‘n aktiwiteit vir die hele gesin waar deelnemers op ‘n baie interessante roete deur die Mosselbaai omgewing, hul kennis van die natuur en omgewing kan toets en uitbrei.
Voornemende deelnemers moet beskik oor ‘n voertuig wat geskik is vir grondpaaie, digitale kamera, GPS, verkyker, inheemse boomboek, fynbos / proteaboek. Ruitverwysings word verskaf en tussen punte op die roete moet sekere bekende bakens gefotografeer word en ‘n interessante blokkiesraaisel ingevul word binne bestek van ‘n bepaalde tyd. By die eindpunt word die wenner bepaal deurdat punte toegeken word vir die beste foto, tyd en voltooide blokkiesraaisel. Slegs 'n beperkte aantal inskrywings word aanvaar.
Na afloop van die groot verdwaal kan deelnemers kom deel in die Bay Guns Luggeweer-skietkompetisie en .22-skiet op interessante ghongs wat deurlopend plaasvind en ‘n draai gaan maak by die jaarlikse trofeë meting. Lekker pryse om te wen. Ligte verversings sal te koop aangebied word. Kom geniet as gesin ‘n dag in die natuur.
Vir inskrywings en inligting kan die SJB-kantoor in Lofty Nelstraat 5, Voorbaai besoek word of skakel Melinda Bosch by 044 6952319 gedurende kantoorure (weeksdae 09:00 – 13:00).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'