Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die jong onervare o.19A-rugbyspan van die Kwaggas het Saterdagmiddag vriend en vyand verras om die hoogaangeskrewe span van Hoër Jongenskool Paarl vir 'n groot deel van die wedstryd te laat klippe kou.
Boishaai, wat vanjaar hul 150ste bestaansjaar vier en die afgelope drie jaar die vaandel dra as die beste skolerugbyspan in Suid-Afrika, het die emosiebelaaide interskole kragmeting met 21-10 gewen.
Dit was een van die beste skole wedstryde wat in Kwaggaland gespeel is en is 'n skitterende advertensie vir die krag van skolerugby in Suid-Afrika.
Rustyd het die Paarliete 'n skamele voorsprong van 7-3 gehad. Outeniqua het hul lywe op die spel geplaas met hul uitmuntende verdediging.
Alhoewel die wenspan in die lynstane oorheers het, het die Kwaggas nie kop verloor nie en selfs met 'n paar teenaanvalle hul verdediging beproef.
Niemand sal stry dat Boishaai, wat die afgelope drie jaar onoorwonne is, verdien het om die wedstryd te wen nie.
Outeniqua het met die vertoning getoon dat hul vanjaar weer 'n krag in skolerugby kan wees.
Kwaggas se beste speler was ongetwyfeld hul wakker flank en onderkaptein, Braam van Huyssteen.
Braam het met sy kraglopies sy span telkemale oor die voordeellyn geneem en het ook rotsvas verdedig. Bennet Nortje (flank) en Eldon Lotz (haker) het ook uithalerspel gelewer.
Agter die skrum het Outeniqua se skrumskakel en kaptein, Aylen Scabort, met taktiese skoppies en vlym breekslae die besoekers telkemale laat omdraai.
In die middelveld het Darren Fortuin (buitesenter), wat 'n pragdrie gedruk het en met 'n doelskop en strafdoel geslaag het, die groot skare op hul voete gehad met sy aanvoeling vir die spel. Sy oog vir 'n gaping en plettervatte het die manne van die Paarl hoofbrekens gegee.
Die Kwaggas se o.16A-rugbyspan, wat die seisoen nog onoorwonne is en die boonste posisie beklee op die SA ranglys, het vir Boishaai met 26-21 geklop.
Op die hokkieveld het Outeniqua se seuns o.19A-span die bordjies verhang deur vir Boishaai met 2-1 te klop. Chairo Africa (kaptein) en Ruach Roux het die wenspan se doele aangeteken.
Ander uitslae:
Rugby:
- o.14A: Boishaai 10, OHS 8.
- o.15A: Boishaai 25, OHS 21.
- o.19B: Boishaai 31, OHS 0.
Netbal:
Hoër Meisieskool Paarl se o.18A-netbalspan het in 'n spannende wedstryd vir Outeniqua met 28-24 geklop. Die Kwaggas het in 2016 in hul laaste kragmeting met 29-19 koning gekraai.
Vir Outeniqua het Adele Agenbag (10) en Anushka Julyan (14) doele aangeteken. Nika Wolmerans is aangewys as speler van die wedstryd.
Kwaggas se o.16A-span wen met 18-16.
Heimne Esau (13) en Minke Scheun (5) het doele aangeteken.
Outeniqua se o.17D's wen met 13-8. Luka Russow (11) en Chevonney Jantjies (2) teken die doele aan.
Paarl se o.14A wen 33-5. Kwaggas se doele is aangeteken deur Landi Nell (3) en Zani du Plessis (2).
Paarl se o.14B wen 38-5. Kwaggas se doele is aangeteken deur Charlene Swanepoel (5).
La-Rochelle van Blerk is speler van die wedstryd.
Paarl se o.15A het met 23-6 gewen. Outeniqua se doele is deur Le-Zhaun Saaiman (3), Marizelle du Plessis (2) en Ruschan Juries (1) aangeteken.
Paarl se o.18B wen 30-10. Charne van der Westhuizen was speler van die wedstryd.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'