Ná afloop van die vyfde ronde kan enigeen van die top vier spanne nog as die Winterkampioene gekroon word. Slegs ses wedstrydpunte skei die top vier spanne.
Vir die tweede agtereenvolgende week is dit die Incredibles wat die toon aangee op 57 wedstrydpunte. Hulle moes egter alles uithaal om met 14 elk gelykop te speel teen die Run Away Come Backs wat welverdiend met 52 wedstrydpunte die tweede plek beklee.
Dit is ook gepas dat hierdie twee spanne, as die enigste onoorwonne spanne in die kompetisie, in die sesde en finale ronde weer kragte sal meet. Dit is heel moontlik dat die wenner van hierdie wedstryd ook as kampioen gekroon sal word.
Balls Up, wenner van die Brandhouse Somerliga wat vroeër vanjaar beslis is, is tans derde op die punteleer geplaas. Die feit dat hulle reeds vantevore in ‘n finaal betrokke was, maak hierdie span ‘n gevaarlike buitestander wanneer hulle vir Ink and Printer in die finale ronde die stryd aansê.
Balls Up het naelskraaps met 12-9 teen Russel Rich gewen terwyl Ink and Printer gemaklik met Waltons in die vyfde ronde klaargespeel het. Die telling was 13-4 in die guns van Ink and Printer, wat as eerste inskrywing in die kompetisie beïndruk het.
Dit het vir die span van KGB vyf rondes geneem om ‘n eerste oorwinning in die kompetisie te behaal. Helaas het hulle met 15-8 teen FNB (B) geseëvier.
In die tradisie van hierdie toernooi sal die baie spesiale TO Honniball-skets weer aan die span heel onder aan die punteleer toegeken word. Tans wil dit lyk asof dit een van FNB se spanne sal wees wat hierdie eer te beurt sal val.
Beide FNB (A) en (B) het nog geen van hul vyf wedstryde gewen nie.
Die sesde en finale ronde vind vanaand (Donderdag 27 Mei) om 18:00 by die Outeniquaklub in Airwayweg plaas.
Alhoewel die prysuitdeling direk ná afloop van spel sal plaasvind, sal die toernooi egter op Vrydagaand ‘n algehele hoogtepunt bereik wanneer die Brandhouse-spitbraai by die klub gehou word.
Sowat 120 spelers, ondersteuners en vriende sal hierdie geselligheid bywoon.
Run Away Come Backs wat tans die tweede plek op die punteleer beklee.
(1).jpg)
Run Away Come Backs wat tans die tweede plek op die punteleer beklee.
.jpg)
Die Balls Up-spanlede tydens die toernooi.