Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sy is volstoom aan die oefen en dit bly steeds haar droom om aanstaande jaar weer aan die Olimpiese Spele deel te neem. So het Anél Oosthuizen, bekende Suid-Afrikaanse stapkampioen en inwoner van George, Maandag vertel.
As daar een persoon is wat kan getuig wat inperking aan mens se lewe doen, dan is dit sy. Alles was op koers om weer te probeer kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Tokio. Dit is egter uitgestel en boonop kon sy aanvanklik nie haar oefenprogram buite hul erf voortsit nie. Sy kon eers weer van 1 Mei daarmee voortgaan. Toe was dit boonop net van 06:00 tot 09:00 en later van 06:00 en 18:00
Sy het reeds Olimpiese Spele ervaring en het in 2016 aan die 20 km-stap vir vroue in Rio de Janeiro deelgeneem.
Volgens haar het die gebeure haar oefenprogram ontwrig.
"Aanpassings moes gemaak word, maar dit het my ook kans gegee om weer op 'n ander gedeelte van oefening te fokus.
"Ek dink almal het gevoel of hulle vrygelaat word na aanleiding van die paar weke wat ons binnenshuis deurgebring het! Die feit dat ons tans tussen 06:00 en 18:00 kan oefen maak dit baie makliker veral met die koeler weer en vir die van ons wat nou voltyds werk."
Dinge is beslis beter as wat dit 'n paar maande gelede was, maar sy voel steeds baie onseker rakende voorlopige wedlope en toekomstige byeenkomste.
"Dit het definitief 'n effek op jou motivering en daaglikse oefenprogram. Tans fokus ek daarop om fiks te bly, maar ook om die tyd te gebruik om aan ander opkomende persoonlike projekte te werk. Dis 'n kwessie van 'embracing the circumstances'.
"Dit is vir my belangrik om doelgerig te wees in die tyd en daarom het ek besluit dat dit nou die perfekte tyd is om ander doelwitte in plek te sit om die tyd so effektief as moontlik te gebruik. Dit is in die stadium baie onduidelik wanneer sy weer mededingend sal kan deelneem."
Dit was en is nie net 'n fisieke uitdaging nie, maar ook 'n emosionele een.
Kyk 'n video hieronder:
"Vir almal is lockdown en die hele Covid-19-pandemie op verskillende maniere 'n ongelooflike emosionele uitdaging. Om in hierdie tyd positief te bly is 'n uitdaging op sy eie en ek dink dit is so belangrik om bewus te wees van die mense rondom jou se emosionele welstand en om te sien na jouself."
Sy het die tyd gevat om dankbaar te wees vir die kleiner goedjies in die lewe.
"Om algemene dinge soos die vryheid om op enige stadium na enige plek toe te gaan te waardeer. Oefengewys het ek beslis geleer om meer kreatief te wees! (Wie het gedink waterkanne kan uitstekende 'weights' wees?) Dit het my letterlik en figuurlik sterker gemaak. Ek dink ook mens besef in tye soos die wat regtig belangrik is in die lewe. 'n Goue medalje om die nek kan nie gesondheid koop nie."
Verwante artikel: Anél wil weer aan olimpiese spele deelneem
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'