GEORGE ATLETIEKNUUS - Nieteenstaande die algehele inperking en die uitstel van die Olimpiese Spele in Japan tot volgende jaar, gaan die bekende stapatleet Anel Oosthuizen, steeds probeer om aan aanstaande jaar se Olimpiese Spele deel te neem.
Oosthuizen, 'n inwoner van George, het gesê haar planne het nie verander nie. Dis net so bietjie verleng.
Sy het reeds Olimpiese Spele ervaring en het in 2016 aan die 20 km-stap vir vroue in Rio de Janeiro deelgeneem.
Haar mikpunt na Rio was om aan die 2020 Olimpiese Spele in Tokio deel te neem. "Dis 'n lang voorbereidingsproses om deur te gaan en om te commit aan so iets.
"Ek het my voorbereidings reeds twee jaar gelede begin om weer te kan kwalifiseer vir die Olimpiese Spele. My mikpunt was om in April te probeer kwalifiseer in Europa.
"Aangesien die koronavirus toe al oorsee toegeneem het, het ek daarteen besluit om te gaan en dit eers op ys gesit. Twee weke daarna is meeste van ons kwalifiserende wedlope gekanselleer en ek het toe al vermoed dat die Olimpiese Spele vir 2020 in gedrang was."
Volgens haar verg dit ongelooflike harde werk om vir die Olimpiese Spele voor te berei. Dis nie 'n tydverdryf of stokperdjie nie. Dis 'n vier jaar oploop van hardewerk, baie afstand werk, baie ure in die gimnasium en steeds die balans in jou lewe behou."
Anel Oosthuizen, bekende stapatleet van George, hard aan die oefen. Die foto is voor die algehele inperking geneem.
As sy praat van balans, verwys sy daarna dat sy ook 'n voltydse werk het. Om dit so te balanseer met oefening en alles wat daarmee gepaardgaan, is daar nie veel tyd vir 'n sosiale lewe nie.
"Dis baie opoffering en harde werk, maar 'n absolute keuse wat jy maak. Wanneer mens die resultate kry, gee jy glad nie om oor jou opofferinge nie. Die geheim is net om dag in en dag uit op jou einddoel gefokus te bly," het sy gesê.
Sy sien die uitstel van die Olimpiese Spele nie in die lig van teleurstelling nie. "Ek voel dis gedoen om ons almal te beskerm en so is almal wat wil deelneem ook in dieselfde bootjie. Ek sien die uitstel daarvan as 'n geleentheid om nog meer voorbereid te wees en om die beste te maak van die situasie. Om daaroor te tob, gaan nie help nie. Ek probeer dit in 'n baie positiewe lig sien."
Om oefening in te kry is sy besig met die 'Mzansi Marathon Lockdown Challenge' waar iemand 'n maraton oor die 21 dae binne sy/haar erf hardloop. Dis 'n minimum van 2 km 'n dag.
"Ek doen ook baie oefeninge en konsentreer op die swakker spiere in my lyf. Dié klein bietjie oefeninge help dat ek aktief bly gedurende die inperking."
Oefening is op die oomblik haar grootste frustrasie omdat sy baie fiksheid verloor.
Anel Oosthuizen, bekende stapatleet van George.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'