GEORGE-NUUS - Met die hoeveelheid inskrywings wat so vat-vat aan ‘n honderd, wag ‘n adrenalienfees Saterdag in Oudtshoorn op motorwedrengeesdriftiges.
Dit is natuurlik die jaarlikse Richard Griessen Repairs Klein Karoo Kampioenskappe wat vir groot opwinding sal sorg.
Getrou aan tradisie, trek jaers van regoor die land eerskomende naweek in Oudts-hoorn saam. ‘n Maand later is dit George se beurt met die ‘Kampioen van Kampioene’- wedren.
Die naweek se verrigtinge skop al Vrydagmiddag om 15:00 af op die parkeerterrein by Pick n Pay waar ‘n knortjor- wedren aangebied word.
Terselfdertyd sal die wyser renjaers solank hulle renmotors aan die vooraf- inspeksie onderwerp. Hier kry die publiek geleentheid om te loer na al die geheimenisse onder die enjinkappe.
Om 18:00 begin verrigtinge by die Rolbalklub waar motorsportvriendskappe versterk sal word en natuurlik uitgevis sal word oor teenstanders se vuurwaens.
Die Sestien-sestigklas spog reeds met 20 inskrywings. Met Charlie Banks (SA2) en Tiaan Scott (SA3) ingesluit, sal dit vir vuurwerke in die middel van die winter sorg.
Oudshoorn Motorklub se Burger van der Westhuizen het ‘n baie suksesvolle seisoen in die Ontwikkeling-klas agter die blad, maar jaag Saterdag sy eerste wedren in hierdie wildewragtag-klas.
Die Suid-Afrikaanse kampioen in die gemodifiseerde 2.1-klas, Nicky Koegelenberg, se probleme is so duidelik soos ‘n vuvuzela op ‘n begrafnis, want twee ou bekendes, Neels van Rooyen en Pieta Victor, se name is ook tussen die inskrywings. Braam Koen, Graham Ferreira en Tokkie van Zyl is almal jaers van die SWD wat die baan baie goed ken. Hulle het beslis die vermoë om eersgenoemdes se Saterdagmiddag te ontwrig.
In die Hitstjor-klas rol die groot name rond soos ‘n mondvol outydse suurklont-jies - Dewald Ranft (SA1), Nickey Koegelenberg (SA2), Jean Steyl, Richard Griessen, Curt Alchin, Jean Meyer, Wade Grimbeeck en Pieta Victor.
Muggie-jaers in die Suid-Kaap is deesdae so yl soos die Noord-Koreaanse sokkerspan se verdedigingslinie, maar Saterdag se wedren is dalk die inspuiting vir die plaaslike Muggies om weer aan die gang te kom. Conrad Bothma, Charl Walters en Speekies Badenhorst sal die geleent-heid gebruik om skouers te skuur met die meer gerekende jaers uit die Kaap.
Die stryd tussen Elton Gilmer, Pieta Victor, Curt Alchin en Bennie Greyling in die gemodifiseerde V8-klas kan vir een van die hoogtepunte van die dag sorg. Dit is Greyling se tuisbaan en hulle sal sukkel om hom van die podium af te hou. Buffer teen buffer mededinging is op die spyskaart en jaers soos Johan Kuyler en Daan de Waal kan brullend in die prentjie kom.
Wedrenne begin om 13:00, hoewel die hekke reeds 07:00 open. Toegang is R50 vir volwassenes en R20 vir kinders onder sestien. Vir meer inligting kan Ina Barnard by 082 898 0192 of Dirk van der Westhuizen by 072 854 8830 gekontak word.