RUBRIEK - Ek weet nie van julle nie, maar ek was gisteraand regtig bang. Die wind het geloei, vensters het geklap, en die twee yorkshireterriërs, het met gespitste oortjies op die bed gesit en bewe.
Dit het egter vroeër die dag met ’n reënboog begin.
’n Pragtige, volgroeide reënboog ná ’n laatmiddag-uitsakreëntjie op Sondag 22 Februarie. Ek het my daaraan verwonder, want die hele dag was ons gesin soos gesmelte roomyse in die versengende hitte wat George moes verduur.
Sodra ek dink ek weet hoe die dag gaan uitdraai, gebeur daar iets vreemd en wonderlik - soos vet, warm druppels wat uitsak, en dan ’n reënboog.
“Hardloop gou, kry die klere van die draad af!” Want ek kon voel hier kom ’n ding.
Daarna was daar ’n ruk van vrede, voor die wind kriewelrig begin raak het. Genade.
Binne ure het dit opgetel na ek-weet-nie-hoeveel-knope-nie, en almal het die huis ingevlug. Ons groot hond het geklink of sy ’n angsaanval kry met die rommelende donderweer, en die kleintjies wou nie ’n oomblik alleen wees nie.
Toe ek wakker word, was alles stil. Net so onwerklik stil. Ná die verskriklike wind was dit tjoepstil. Ek loer by die blindings uit en voel die warm, drukkende lug insypel. Ons is weer terug by warm. Weird en warm.
Uit my skrywe is dit seker duidelik ek is geen weerkundige nie, maar ek is nie gewoond aan hierdie donsskimmelweer en rukwinde nie - en verseker nie aan ’n stuitige reënboog laatmiddag op ’n sogenaamd rustige Sondag nie. Dis asof die dag self nie kon besluit wie hy wou wees nie.
Hou maar vas aan jou wasgoedpennetjies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’