GEORGE NUUS - Na net bietjie meer as drie maande in sy nuwe pos as voorsitter van die munisipale publieke rekeninge komitee (MPRK) van die George-stadsraad, het Johan du Toit gemengde gevoelens.
Hy beskou die pos as 'n groot uitdaging met frustrasies. Hy sukkel soms om samewerking van belanghebbendes te kry en daar is ook logistieke uitdagings.
Die komitee word as een van die belangrikste komitees van die stadsraad en munisipaliteit beskou en funksioneer op dieselfde basis as die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).
Sy vernaamste taak is 'n oorsigrol oor munisipale finansies. Dit is 'n tradisie dat die pos aan 'n lid van die opposisie gegee word. Du Toit is 'n stadsraadslid onder die vaandel van die ACDP.
Du Toit het by navraag gesê daar is sake waaroor hy en die komitee inligting van die administrasie wil hê, maar volgens hom gebeur daar niks. Hy kan nie in die stadium besonderhede oor die sake bekendmaak nie. Hy benadruk hy wil nie vinger wys nie. "Ek wil bloot my werk doen."
In 'n poging om dinge op die spits te dryf, het hy 'n spertyd tot 13 November vir betrokkenes gegee.
"Dan wil ons as die komitee antwoorde hê. Ons sal dit dan oorweeg en besluit of dit relevant is om verdere optrede te regverdig."
Volgens Du Toit is nog een van die groot uitdagings logistiek. Hy benodig administratiewe hulp soos 'n sekretaresse. "Toe ek navraag daaroor gedoen het, is aan my gesê ek moet gebruik maak van die burgemeester se sekretaresse."
Du Toit het die versekering gegee dat hy beslis nie sake sal los nie. "Dit raak belastingbetalers se geld en ons sal daarmee voortgaan."
Die George-munisipaliteit het by monde van 'n woordvoerder Chantel Edwards-Klose gesê Du Toit het kantoorruimte tot sy beskikking.
Altesaam 11 raadslede het op die oomblik sitting op die komitee. Benewens Du Toit, het raadslede Wilbur Harris, J Fry, H Ingo, L Langa, P Louw, E Stroebel, P van der Hoven, GJ van Niekerk en D Wessels sitting op die komitee.
Die komitee word gehelp deur amp-tenare van korporatiewe dienste en amptenare van die raad. Hulle help in 'n bestuurshoedanigheid, met agenda's en notules. Op die oomblik het slegs raadslede van die burgemeesterskomitee kantoorruimte in die munisipale geboue.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'