GEORGE NUUS - Good betwis die uitslag van die onlangse munisipale tussenverkiesing in wyk 20, Borcherds. Die DA-kandidaat Regina Windwaai, het die tussenverkiesing naelskraap met agt stemme teenoor haar naaste teenstander van Good, Mercia Draghoender, gewen.
Brett Heron, Good se sekretaris-generaal het Dinsdag by navraag bevestig dat 'n beswaar by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) in Pretoria ingedien is. Dit was binne die voorgeskrewe wetlike vereiste tydperk.
Die OVK het Good daarna versoek om meer inligting te verskaf. Good het 18 mense geïdentifiseer wat na bewering deur die voorsittende beampte verhoed is om te kon stem. Altesaam 10 van hulle was bereid om beëdigde verklarings in te dien en dit is onder meer aan die OVK gestuur.
'n Beëdigde verklaring is ook ingedien van 'n kieser wat na bewering deur die DA geïntimideer is.
Heron het van die e-posse wat Good aan die OVK gestuur het, beskikbaar gestel. In die e-posse bevestig die OVK dat hy die saak ondersoek.
Volgens Heron het die OVK ontvangs erken van die getuienis wat in die loop van verlede week verskaf is. Die OVK het onderneem om sodra 'n besluit geneem is, die bevinding aan Good te verskaf.
Draghoender het Dinsdag gesê sy beskou haarself as die raadslid vir die gebied. Van Good se ondersteuners was besig om tuine op grond wat aan die George-munisipaliteit behoort en voorheen as stortingsterrein in Borcherds gebruik is, te verfraai. "Ek het bewyse dat daar ongerymdhede was," het sy aangevoer.
Sy wag nou vir die OVK ondersoek om afgehandel te word. "As die OVK lig werp op die saak en die ondersoek is afgehandel sal ek berus in die bevinding."
Die Good-ondersteuners was dit eens dat Draghoender hul raadslid is en beslis die wyk gaan wen in die 2021 munisipale verkiesing.
Rozain Hansen, die DA-veldtog-bestuurder vir die tussenverkiesing, in wyk 20 het in reaksie gesê die DA is bewus van die klagte.
Nadat dit bekend geword het dat Good 'n klagte ingedien het, het die DA se provinsiale verteenwoordiger by die OVK kontak met die DA in George gemaak oor die aangeleentheid. Die DA in George het toe reageer.
"Daar is geen bewyse vir Good se bewerings nie. Ons kon die teendeel oor Good se bewerings aan ons leierskap bewys. Ons volstaan en aanvaar die uitslag. Ons verkose raadslid is reeds besig om dienslewering in die wyk te verseker."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'