Update
GEORGE NUUS - Die DA wag tans op terugvoer van die nasionale kommissaris oor ‘n kwessie wat een van hul wyksraadslede betref. Vincentius Muller, die wyksraadslid van Conville en voorsitter van die DA-koukus, het onlangs gehoor sy aansoek by die department van korrektiewe dienste om ook as deeltydse raadslid van die George-raad te dien, is afgekeur.
Muller werk as maatskaplike werker by dié department.
George Herald het vandag op bl. 7 berig dat Muller ook ‘n lid van die burgemeesterskomitee is. Dit is egter nie die geval nie.
“Muller is steeds die wyksraadslid van Conville en dien steeds as koukusvoorsitter, tot ons uitklaring oor die saak kry,” het Geordin Hill-Lewis, DA-kiesafdelingshoof van George, gesê.
“Ons hoop van harte dat ons binnekort terugvoer sal ontvang. Dit is die eerste jaar wat sy aansoek deur die department afgekeur is. ‘n Raadslid dien vir vyf jaar. Vir drie jaar was daar geen probleme nie.”
Indien die DA se poging om die besluit te hersien nie slaag nie, mag die party nog ‘n tussenverkiesing in die gesig staar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'