GEORGE NUUS - Die DA is dalk nóg 'n wyksraadslid kwyt nadat Vincentius Muller, vandeesweek gehoor het sy aansoek om as deeltydse raadslid werksaam te wees, is afgekeur.
Muller is 'n maatskaplike werker by die departement van korrektiewe dienste (DKD) en die wyksraadslid van wyk 17 (Conville, George Industria).
"Ek is besig met 'n proses om uit te vind [oor die saak], ek wil nie verder kommentaar lewer nie. Ek probeer agter die kap van die byl kom, dit is nogal 'n skok. Vir drie jaar was daar geen probleme nie," het hy gesê.
Muller wou nie die redes bekend maak wat die department vir hul besluit aangevoer het nie. Navrae is aan die departement gestuur, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie. Volgens 'n betroubare bron is daar sprake dat Muller die departement moet terugbetaal vir werksure wat hy tydens vorige raadsvergaderings verloor het.
Die DA wag nog vir 'n regsopinie om te bepaal of Muller tans raads-vergaderings mag bywoon. DA-kiesafdelingshoof van George, Geordin Hill-Lewis, het gesê die party glo Muller se aansoek is afgekeur weens politieke beweegredes.
Vincentius Muller Foto: Michelle Pienaar
"Hy het elke ander jaar toestemming gekry, so dit is baie vreemd en verdag om nou sy versoek te weier.
"Ons gaan die saak met die nasionale kommissaris bespreek. Die feit dat hierdie storie gelek is, vermoedelik deur opposisiepartye in George of deur bronne binne die department, is bewys van 'n politieke dryfveer. Hulle sal harder moet probeer om ons te stuit."
Volgens Hill-Lewis behoort hulle binne die volgende paar weke uitklaring oor die saak te hê. "Dit hang alles af van die nasionale kommissaris," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'