Maar ‘n vreemde ding het vroeg Januarie hier gebeur: ‘n Ding wat die dominee by die NG kerk Waverley, net om die hoek, versigtig is om met sy gemeentelede te bespreek en wat een van die buurvroue nuuskierig oor haar muur laat loer en kopskuddend “vreemd-vreemd” mompel.
‘n Boeddhistiese-sentrum, die Jang Chup Chopel Centre (sentrum van lig), het vanuit een van die woonhuise verrys en toe hulle weer hoor het die 108 Boeddhistiese-mantras uit die mond van Duan Pienaar (48) begin stroom.
Nog voor sy nuuskierige buurvrou en sy ateïstiese buurman (aan die linkerkant) hulle oë kon uitvee het Afrikaners (mans en vroue) na die sentrum begin gaan om te leer mediteer en hul innerlike self te vind.
“Daar is ‘n Boeddha in elkeen van ons,” sê Pienaar.