Die Yamaha Korporasie is in 1897 gestig en het hulle hoofsaaklik toegespits op musiekinstrumente (hulle het oorspronklik handel gedryf onder die naam Nippon Gakki). Teen die 1950's was hulle die wêreld se grootste vervaardiger van klaviere.
In 1953 het hulle hul aandag begin vestig op gemotoriseerde voertuie onder die leiding van hul derde-generasie president, Genichi Kawakami, en het baie gou daarna begin om motorfietse te produseer. Wel teen hierdie tyd was daar reeds lankal Kawasaki's en dis dalk waarom Kawakami besluit het op Yamaha. Kawasaki en Kawakami's sou net te veel verwarring veroorsaak het.
Kawakami besluit op motorfietse
Kawakami, het geen ondervinding op die gebied van gemotoriseerde voertuie gehad nie, en het besluit om op 'n wêreldwye navorsingsending te gaan om soveel inligting oor motorfietsvervaardiging te versamel as wat hy kon. 'n Jaar later in 1954 is die Yamaha YA-1 bekend gestel. Hierdie lugverkoelde, tweeslag, enkelsilinder, 125cc-enjin wat 'n uithoutoets van 10 000 kilometer oorleef het. Dit is in 1955 bekend gestel en het die maatskappy geforseer om die dogtermaatskappy Yamaha Motor Company te stig.
In 1956 en 1957 was hul tweede en derde modelle gereed om vrygestel te word. Dit was die 175cc YC1 en die 250 cc tweeslag YD1 onderskeidelik. Laasgenoemde was 'n treffer op die VSA se renbane, en Cooper Motors het begin om hierdie modelle in Amerika te verkoop.
Verskeie modelle
Teen 1960 het die Yamaha International Corporation Amerikaanse handelaars voorsien van 'n reeks modelle om in die land te verkoop. Die eerste Yamaha vierslag motorfiets, die XS-1 (650cc vertical twin) verskyn in 1970. Teen 1975 word die eerste enkel skokbreker, veldfiets geproduseer. Dit was ook die begin van die YZ Monocross enjins.
In 1978 is die XS1100 motorfiets (vier silinder asaandrywing) bekend gestel. En die XS650 Special was die eerste Cruiser deur ‘n Japanese vervaardiger.
Teen 1979 het YICS (Yamaha Induction Control System), ’n brandstof besparende sisteem ontwerp vir vierslag enjins.
Die eerste lugverkoelde V-twin Cruiser die Virago 750, word in 1981 bekend gestel. In 1984 vind die eerste produksie van die vyf klep per silinder enjin in die FZ750 plaas. Yamaha se eerste vierwiel, die YFM200, word in Amerika bekend gestel.
V-Max 1200
En dan maak ons natuurlik kennis met die gespierde V-Max 1200 in 1985. Dit is natuurlik ’n motorfiets van ’n ander spesie as ’n mens dit so kan noem. Om hom te ry het jy sterk, baie sterk, nekspiere nodig.
Die krag is daar en die V-Max kan byhou by enige Superfiets wat ’n ongeoorloofde 180 km plus per uur ry. Ons vra net nie hoe die ryer na ’n paar kilometer voel het nie. Jy mag dalk teen daardie spoed 'n nekstut nodig hê. Hierdie was 'n episode wat ek self beleef het.
Die YZ400F vierslag veldfiets is vanaf 1998 op die mark. Dit was die eerste massaproduksie vierslag veldfiets.
Toe maak die YZF-R1 sport sy verskyning wat die weg gebaan het vir die volgende aantal jare.
Vandag begeer byna elke motorfietsryer een van die nuwe Yamaha FJR1300's. Die ideale motorfiets as 'n mens dink aan toer. En miskien kan 'n Honda-ondersteuner ook hiermee saamstem. Dalk is die nuwe Yammie 'n beter opsie as die Honda Goldwing en nie heeltemal so massief nie. Soos hulle sê, die Goldwing kort net 'n dakliggie dan is dit 'n motor.
Meer as net motorfietse
Die gewildheid van hul ontwerpe het verseker dat hul verkoopvlakke vir motorfietse oor die laaste vyf dekades behou is, wat Yamaha die tweede grootste produsent van motorfietse ná Honda maak. Yamaha vervaardig vandag enige iets van motors, buiteboordenjins, sneeumobiele, waterponies en natuurlik ’n groot verskeidenheid musiekinstrumente.
Maar vir vandag volstaan ons met 'n baie kort weergawe van Yamaha se ontstaan en geskiedenis.

Enige man se begeerte, die nuwe Yamaha FJR1300.
ARTIKEL: EMSIE MARTIN
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Klein-Karoo nuus'