Update
GEORGE NUUS - Vyf jaar nadat die berugte plaaslike provinsiale verkeersbeampte, Benzil Ramati, in hegtenis geneem is, het geen hofsaak nog begin nie.
Die George Herald het verlede week betroubaar verneem dat Ramati se nuwe regsverteenwoordiging 'n aansoek in die hooggeregshof gebring het om alle vervolging te stop of dat die saak voor die hof gebring word.
Nie Winston Jansen van Nico Smit Prokureurs of Ramati wou vandeesweek op vrae van die George Herald reageer nie, behalwe om te sê dat die aangeleentheid sub judice is.
Ramati en 'n kollega, Frickel Terblanche is op 25 Maart 2013 by die George-provinsiale verkeerskantore in Yorkstraat na 'n uitgebreide ondersoek in hegtenis geneem.
Daar is beweer dat hulle "omkoopgeld aanvaar het om boetes te verminder", het 'n polisieverklaring destyds gelui.
Terblanche het kort daarna in George-landdroshof verskyn en is op borgtog van R3 000 vrygelaat.
Ramati is na sy arrestasie na Athlone in Kaapstad vervoer. Hy is ook na sy eerste verskyning op borgtog van R3 000 vrygelaat.
Dit is onduidelik hoe ver die saak teen Ramati sedert sy vrylating gevorder het, maar na verneem word, het Ramati ses of sewe keer in die hof verskyn.
Sy laaste verskyning was laat in November 2013. Die saak is toe tydelik teruggetrek.
Die George Herald het sedert verlede jaar 'n paar media navrae aan die provinsiale kantoor van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestuur om uit te vind wat die status van Ramati en Terblanche se saak is, maar nog geen kommentaar ontvang nie.
Terblanche se saak is, so ver dit bekend is, ook nie afgehandel nie. Sy saak is in die George-streekhof aangehoor, maar is in Augustus verlede jaar tydelik van die hofrol geskraap nadat die landdros nie nog 'n uitstel aan die staat wou toestaan nie.
Die staat het volgens inligting gesukkel om 'n getuie op te spoor wat in die saak teen Terblanche moet getuig.
Lees vorige artikels hier:
- Ramati awaits labour court date
- Ramati withdraws CCMA case
- Klagtes teen Ramati teruggetrek
- Opvolg: Ramati en Terblanche bedank
- Opvolg: Ramati bedank
- Opvolg: Ramati moet in Kaap bly
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'