Die 410 gaste kon skitterende talent op die verhoog, heerlike saamkuier tussen vrien-dinne, groot bederf in die geskenksakkies en gelukstrekkings, en pragtige uitstallings in 'n uitstekende plek beleef.
Andrea du Plessis, die geregistreerde dieetkundige hoof van Vital Health Foods, is 'n toonbeeld van 'n gesonde, sprankelende vrou wat 'n gebalanseerde dieet met die regte aanvullings neem. Sy het belangrike feite weer beklemtoon - enige medikasie wat jy neem, meng in met die wyse waarop jou liggaam voeding opneem. En skyfies en gaskoeldrank dra die meeste by tot 'n mens se gewig.
Volgens haar is die groot sondebokke in die stryd teen velveroudering dehidrasie, die son, besoedeling, stres en rook.
Om die vroue met hierdie stryd te help, be-veel sy ses tot agt glase water en drie koppies rooibostee per dag aan, asook kos wat vitamiene E, A, B en C bevat en aanvullings wat koënsiem Q10 en kollageen bevat.
Marita Lamprecht van La Chocolaterie Rococo in Oudtshoorn, 'n borrelende stukkie dinamiet, het haar wonderlike storie van hoe sy uit haar gemaksone haar vlerke gesprei het, gedeel. Sy het met baie gebed 'n geloofsprong geneem en in Frankryk geland. Daar het sy nie net opleiding van die bekende meesterchocolatier ontvang wat die handleiding vir sjokolade-opleiding geskryf het nie, maar ook by hulle aan huis gebly.
Sy het gaste op 'n dekadente sjokoladereis deur die wêreld van Belgiese sjokolade geneem - vandat die kakaoboontjies geoes word, die invoer van hierdie sjokolade met 100 persent kakaobotter uit België, die smeltproses, hoe sy dit met die hand tempereer saam met egte vars room, ongesoute botter en organiese geurmiddels tot by die smelt-in-die-mond pralines wat almal van genot laat kreun het.
Die vroue was opgewonde om te hoor dat die rooiwyn-gegeurde dondersjokolade baie anti-oksidante asook vitamine B, A, fosfor en magnesium bevat. Haar sjokoladeskeppings wat by haar fabriek gemaak word, is ook iets vir die oog.
Die seremoniemeester, TV-persoonlikheid Hannes van Wyk, was 'n hartsgunsteling en sy humoristiese kwinkslae, die diep liefde vir sy ma, die opregte waardering vir en respek teenoor vroue spreek uit sy hele houding.
Hy het met gaste sy siening oor ma-wees uit 'n kind se perspektief gedeel. Volgens Hannes het die Vader 'n 'engel' geskape, haar Ma genoem en haar aarde toe gestuur. Haar enigste tekortkoming is dat sy vergeet hoe kosbaar sy is.
Ma's het twee hande, maar werk 18 uur per dag. Hulle bestuur 'n huishouding, deel drukkies uit en streel einas weg. Ma's is sag, maar dink, onderhandel en los met krag haar gesin se probleme op. Sy lyk broos, maar haar trane weerspieël haar geluk, soms eensaamheid, soms trots. Sy is die briljante aktrise wat lag soos 'krismisklokke', al breek haar hart. Haar liefde is onvoorwaardelik.
Dan werk ma's nog in die korporatiewe wêreld waar mans aan selektiewe doofheid ly as dit kom by insette van vroue wat kenners op hulle gebied is. Hannes het 'n humoristiese skrywe van Nataniël oor 'n vrou met 'n diepgaande jaloesie voorgelees wat die vroue laat skaterlag het. Al die vroue se wens: Annekseer hierdie geliefde Bravo-aanbieder vir George!
Adri van Nieuwenhuizen kon by die geleent-heid ook die 'Pink Trees for Pauline'-projek bekendstel. Daar gaan ná Saterdag baie pienk bome teen kanker in George pryk.
Die kykNET Idols-wenner, Dewald Louw was die gaskunstenaar en het die vroue bekoor met sy sag-op-die-hart stem en persoonlikheid. Die dag is afgesluit met elke gas op haar voete wat saam wieg en klap op die maat van sy musiek.
Outeniqua Dames Aktueel het Eden-gemeente en hulle raakvat verteenwoordiger, Ilse Botes, hul briljante klankingenieur Ruan Venter en die bobaassjef Adele Buitendach van Die Ou Pastorie op Groot-Brakrivier bedank vir 'n uitstekende oggend met tafels wat gekreun het onder die lekkernye, ten spyte van die feit dat daar nie 'n kombuis in die ouditorium is nie. Sonder die borge en almal wat hand bygesit het, het ook 'n reusebydrae gemaak tot die sukses van die dag.
Sien nog foto's hier.
Magdaleen Smook, voorsitter van Outeniqua Dames Aktueel, op die verhoog saam met die seremoniemeester, Hannes van Wyk, wat die vroue met sy kwinkslae laat skater het.
(Artikel deur Louie Meyer, bestuurskomiteelid van Outeniqua Dames Aktueel)
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'