GEORGE NUUS - 'n Entoesiastiese groep plaaslike vroue is op Saterdag 11 September by Oppie Plaas Venue in Waboomskraal onthaal. Baie het die geleentheid aangegryp om vir die eerste keer in maande 'n rooi lipstiffie uit te haal, 'n flambojante serp om die nek te gooi en lekker saam met vriendinne te kuier.
Maar die eintlike rede vir dié spog-gerige geselligheid was die viering van die kinderdagboek, My Storie, van The My Story Tribe en die amptelike begin van hulle bewusmakingsveldtog #youcansitwithus.
Hierdie veldtog plaas die fokus op inklusiwiteit, veral onder kinders en om uniekheid onder mekaar te vier. Dit is die eerste geleentheid van sy soort waarvan die doel is om gesprekke rondom inklusiwiteit in ons samelewing vandag aan te moedig.
Plaaslike binnenshuiseontwerp-fundi, Soekie Earle van Soekie Earle Architectural and Interior Design, was die hoofborg vir die oggend.
Haar dogter, die arbeidsterapeut Chantel Griesel, is die een wat 'n kardinale bydrae tot die samestelling van hierdie emosionele-groei dagboeke gelewer het.
Griesel span kragte saam met aktrise en kinderboek-skrywer, Milan Murray, om met die The My Story-platform, kinders tussen ses en 13 jaar te help om emosioneel te groei.
Griesel se fokus gedurende die oggend was om weer verhoudinge en verbintenis met ons kinders te herstel in 'n tyd waar isolasie en diskonneksie seëvier.
Plaaslike spelterapeut Lianca Fourie, was ook 'n geleentheidspreker en het die belangrikheid van dialoog in haar praatjie benadruk.
Meeste Afrikaanse televisiekykers het onlangs vasgenael voor die kassie gesit vir die derde seisoen van Die Byl op KykNET. Dit was dus 'n groot bederf om ook vir aktrise Lika Berning te verwelkom. Murray en Berning het 'n oop gesprek gevoer oor ouerskap en die My Stoy Tribe se veldtog #youcansitwithus amptelik afgeskop.
Die oggend is ekstra spesiaal afgesluit met geskenke en bederfpakkies van Skinstitute, Earle Design, Maichealangelo Hair and Dry bar, Centre for Dental Excellence, Beula Beauty Bar, Dermastetix en Object Design and Furnisuars.
Vir meer inligting oor The My Story Tribe, gaan loer gerus op hulle webwerf of kontak hulle by hello@themystroytribe.com
Die borge wat die oggend moontlik gemaak het is van links: Eldinee Nortjé, Rona Strüwig, Soekie Earle, Christine de Villiers, Caroline Brussow, Michelle Theron, Carlize Earle. Photos: Michelle van Staden (Michelle Photography)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'