Update
GEORGE NUUS -
Dit is 'n klassieke geval van wolf-wolf skree. Só sê die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, ná die 51-jarige Retha Horn, wat in September beweer het sy is deur drie mans in polisiedrag verkrag, verlede Vrydag by haar huis in Blanco in hegtenis geneem is.
Ernstige bewerings van 'n groepsverkragting wat deur haar aangemeld is, is volgens die polisie onwaar.
Horn het beweer vier mans met klapmusse, wat hulself glo as polisiemanne voorgedoen het, het haar deur die nag aangehou, bedwelm en verkrag nadat hulle haar omstreeks 19:00 op die R102 tussen Mosselbaai en George afgetrek het.
Volgens haar was sy onderweg vanaf Glentana na George toe die beweerde verkragting in die Hoogekraal-omgewing plaasgevind het.
Sy is op aanklagte van bedrog, myneed en regsverydeling in hegtenis geneem. Sy het Maandag in die George-landdroshof verskyn en is op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel tot 18 Januarie vir verdere ondersoek.
Polisie lewer kommentaar
Pojie het by navraag gesê hulle is bly dat die reg nou sy gang kan gaan.
"Uiteraard is dit vir ons absolute prioriteit om korrupsie en misdaad binne ons eie geledere hok te slaan. In lyn met nie net die polisie se nasionale strategie nie, maar ook dié van die regering, is baie hulpbronne ingespan om die beweringe wat deur Horn aangemeld is op te volg. Selfs spesialiseenhede is geaktiveer," sê Pojie.
Volgens Pojie het hulpbronne wat aangewend is om die vals beweringe op te volg dienslewering aan wetsgehoorsame burgers beïnvloed.
"Boonop het dit ‘n negatiewe impak op die polisie se beeld gehad. Die gemeenskap moet onthou die polisie is 'n noodsaaklike diens. Ons reaksietyd op klagtes is vir ons van kardinale belang. Hoewel ons die persepsies met die bewering dat polisiemanne by 'n verkragting betrokke was kan weerlê, kleef daardie persepsies in die gemeenskap se gedagtes vas. Dit bemoeilik die vertrouensverhouding tussen die gemeenskap en polisielede, dit bemoeilik ook gemeenskapspolisiëring en nuwe projekte wat ons binne ons gemeenskappe wil aanpak.
"Verder kan die belastingbetalers se geld en verskeie ander hulpbronne wat ingespan moes word nie in monitêre waarde beskryf word nie. Dis nie nét die polisie nie, ander afdelings is ook betrokke.
"Ons is oortuig daarvan dat ons genoeg bewysstukke bekom het om 'n prima facie saak teen die beskuldigde te maak," het Pojie vandeesweek aan die George Herald gesê.
Facebook
Die George Herald se Facebook-blad het behoorlik gekreun onder die kommentaar van lesers ná gerugte oor die beweerde verkragting aan die lig gekom het.
George-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Michael Opperman, het toe bevestig dat 'n saak van verkragting en gewapende roof ondersoek word ná die vrou die voorval by die George-polisiestasie aangemeld het.
A woman (51) who alleged she had been raped by four men in police uniforms, was arrested at her home in Blanco last Friday 2 November. The police had established that her claims about being detained, drugged and raped after she was pulled off the road near Glentana by four men in police uniforms and balaclavas, as false. She has been charged with fraud, perjury and obstruction of justice. Police spokesperson Capt Malcolm Pojie said because of the serious nature of the allegations and the implications for the police force, many resources had been rolled out to investigate, including specialist units.
Lees vorige artikels hier:
- Vrou se 'verkragting' was na bewering vals
- Vrou beweer 'polisiemanne' het haar verkrag
- Vrou glo deur 'polisiemanne' oorval
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'