Update
GEORGE NUUS - Niemand is nog in hegtenis geneem ná die beweerde groepsverkragting van 'n vrou wat glo Saterdagaand naby die R102 in die Hoogekraal-omgewing plaasgevind het nie. Die polisie het ook nog geen moontlike verdagtes geïdentifiseer nie.
Die George Herald se Facebook-blad het behoorlik gekreun onder die kommentaar van lesers na dit aan die lig gekom het dat 'n 51-jarige vrou van Blanco Saterdagaand, 22 September, na bewering naby Hoogekraal deur onbekende mans oorval is.
Die vrou beweer vier mans, wat hulle glo as polisiemanne voorgedoen het, het haar deur die nag aangehou en verkrag nadat hulle haar omstreeks 19:00 afgetrek het. Sy was op die N2 onderweg vanaf Glentana.
Die verdagtes het glo in 'n voertuig met polisiekentekens en blou ligte gery toe hulle haar aftrek.
George-polisie se kommunikasiebeampte, sers. Michael Opperman, het bevestig dat die saak by die George-polisie gerapporteer is.
Hy sê die slagoffer het aan die polisie gesê dat die verdagtes almal klapmusse (balaclavas) gedra het en dat hulle in polisiedrag geklee was. Hulle het haar glo oorval en in haar motor geblinddoek en vasgebind. Sy is van bankkaarte en kontant beroof en forseer om drie keer geld by verskillende OTM's te trek terwyl sy geblinddoek was. Daarna is sy glo herhaaldelik verkrag.
"Die slagoffer vermoed sy was ook bedwelm. Volgens haar was sy alleen in haar motor toe sy bygekom het en kon nie meer onthou as wat sy ons vertel het nie. 'n Saak van verkragting en gewapende roof word ondersoek," sê Opperman. Sy het die voorval die volgende oggend by die George-polisie gerapporteer.
Die saak is intussen na die polisie op Groot-Brakrivier oorgeplaas vir verdere ondersoek. Geen verdere inligting is tans beskikbaar nie.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die Mosselbaaise gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) by 044 693 3129 of 082 335 0686 skakel.
Lees 'n vorige artikel hier: Vrou glo deur 'Polisiemanne' oorval
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'