GEORGE NUUS - George-polisie het 'n dossier van verkragting geopen nadat 'n 51-jarige vrou van George Saterdagaand, 22 September, na bewering naby Hooggekraal deur onbekende mans oorval is.
Die slagoffer beweer vier mans, wat hulle glo as polisiemanne voorgedoen het, het haar deur die nag aangehou en verkrag nadat hulle haar omstreeks 19:00 afgetrek het. Sy was onderweg vanaf Glentana.
Die verdagtes het glo in 'n voertuig met polisiekentekens en blou ligte gery toe hulle haar aftrek.
George-polisie se kommunikasie beampte, sers. Michael Opperman, het bevestig dat die saak by die George-polisie gerapporteer is.
Hy sê die slagoffer het aan die polisie gesê dat die verdagtes almal klapmusse (balaclavas) gedra het en dat hulle in polisiedrag geklee was. Hulle het haar glo oorval en in haar motor geblinddoek en vasgebind. Sy is van bankkaarte en kontant beroof waarna sy glo herhaaldelik verkrag is.
"Die slagoffer vermoed sy was ook bedwelm. Volgens haar was sy alleen in haar motor toe sy bygekom het. 'n Saak van verkragting word ondersoek," sê Opperman.
Die saak is intussen na die polisie op Groot-Brakrivier oorgeplaas vir verdere ondersoek.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan die polisie skakel by 044 620 8300.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'