GEORGE NUUS - Kommer is uitgespreek oor die swak toestand van die Yorkstraat-begraafplaas. 'n Leser, wat verkies om anoniem te bly, het George Herald gekontak oor die situasie.
Uit foto's wat op 25 November tydens 'n begrafnis daar geneem is, is dit duidelik waarom daar kommer is.
Volgens die leser het die familie van 'n oorledene dit onder sy aandag gebring. Die familie was so ontsteld dat hulle gevra het dat 'n opgrawing moet plaasvind.
Die leser het self ook gaan kyk. "Ek was baie geskok. Ek sal nie eers my eie familie daar begrawe nie," het hy gesê.
"Dis nie regverdig wat daar gebeur nie. As dit reën, is dit 'n groot gemors. Dit dra nie 'n goeie beeld uit nie, want dis by die ingang van die stadskern."
Die toestand van die Yorkstraat-begfaafplaas.
Volgens ingeligtes is families veronderstel om die grafte in stand te hou. Die grond behoort egter aan die munisipaliteit.
Die George-munisipaliteit het by navraag gesê die foto's is van die nuwe deel wat drie jaar gelede voorberei is. Dit word in verskillende blokke aan begrafnisondernemers voorsien.
Die betrokke begrafnisondernemer het reeds die skoonmaak rondom die grafte in sy blok aangespreek. Dit is gedoen deur 'n diensverskaffer wat grafte grawe.
Die munisipale parke en rekreasie afdeling is verantwoordelik vir die instandhouding en skoonmaak van die begraafplaas.
Nadat samesprekings verlede week plaasgevind het, is 'n ooreenkoms nou in plek dat geen masjinerie die begraafplaas mag binnegaan sonder dat 'n amptenaar van die George-munisipaliteit teenwoordig is.
Die reëling oor die grond wat na 'n begrafnis oorbly, is die direkte verantwoordelikheid van die begrafnisondernemer en sy diensverskaffer. Die instandhouding van 'n individuele graf is die verantwoordelikheid van 'n oorledene se familie.
Die toestand van die Yorkstraat-begraafplaas soos op 25 November.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’