GEORGE NUUS - 'n Voormalige joernalis van die George Herald, Itha Kieser, is verpletter na sy haar enigste twee seuns en vervreemde man op Dinsdagaand 18 Julie in 'n gru-motorongeluk verloor het.
Christian (16) en Aldin (13) was saam met hul pa, Heinrich, op pad terug van vakansie in Mosambiek toe die ongeluk plaasgevind het.
Volgens 'n bron na aan die familie was Heinrich en sy seuns, asook 'n vriendin van Heinrich, Gill Venter, en haar seun, Jordan, nét oor die grenspos op Komatipoort toe 'n vragmotor uitgeswaai en hulle voertuig reg van voor getref het.
Venter en haar seun is albei met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem.
Itha was 'n joernalis by die George Herald van 1 Mei tot 30 November 2010, waarna sy by die plaaslike tydskrif, South Magazine, as assistent-redakteur vir twee jaar aangesluit het.
In 2013 het sy na Pretoria verhuis.
In 'n Facebook-plasing Dinsdagaand skryf sy: "My pragtige kinders, Christian en Aldin is vanaand saam met hulle pappa in 'n motorongeluk oorlede. Op pad terug vanaf Mosambiek. Hulle is nou by Jesus."
Ons innige meegevoel gaan aan Itha met haar groot verlies, van almal by die George Herald.
ARTICLE: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOURNALIST
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'