GEORGE NUUS - Die Wes-Kaapse departement van vervoer beskou die teenwoordigheid van mense langs die N2 by George in 'n baie ernstige lig en waarsku dat dit nie toelaatbaar is nie. Voetgangers wat onwettig daar stap of draf, loop die gevaar om 'n stywe boete te kry.
Dit volg nadat George Herald die afgelope tyd verskeie klagtes ontvang het van lesers wat ongelukkig is oor veral voetgangers op die N2 tussen Pacaltsdorp en die Garden Route Mall.
Een van die lesers het gesê daar is nou selfs mense wat draf langs die hoofweg. Daar is ook steeds werkgewers wat werkers langs die hoofweg aflaai.
Die lesers wil weet hoekom wetstoepassers niks aan die situasie doen nie aangesien die wet duidelik is: voetgangers hoort nie daar nie.
Jandré Bakker, kommunikasiehoof van die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke, het by navraag gesê dis 'n groot probleem en mense moet besef dit gaan oor hul eie veiligheid. "Ons is bewus van hierdie probleem en beskou die probleem in 'n ernstige lig."
Die oorgrootte lengte van die N2 is 'n Sanral-pad, maar wetstoepassing is in sekere dele na die Wes-Kaapse provinsiale verkeerwetstoepassing oorgeplaas.
Dit is nie toelaatbaar vir voetgangers om daar te wees nie. "Ons het verskeie padtekens laat oprig om beide voetgangers en motoriste wat daar stop te herinner dat dit nie toegelaat word nie. Vir voetgangers kan die boete soveel as R300 wees."
Volgens Bakker is hulle bewus van die probleem en kry dit aandag tydens roetine patrollies asook tydens spesifieke geïntegreerde operasies. "Die probleem is ook nie slegs beperk tot mense wat werk soek nie, maar ook mense wat rygeleenthede soek of selfs by sekere punte deur voertuigpoele op-en-af gelaai word.
"Die realiteit is dat mense sekere gedrag toon wanneer iets vir hulle die moeite werd is. Indien mense langs die N2 staan en werk vra is dit omdat daar mense is wat hulle oplaai. Indien die publiek nie hierdie mense oplaai nie sal hulle aanbeweeg.
"Daar is beperkte wetstoepassingskapasiteit en om iemand daar permanent te plaas gaan nie die probleem laat verdwyn nie, want die brandpunt sal iewers anders kop uitsteek."
Hy het die publiek gevra om nie die mense op te laai nie.
'n Padteken by die N2 wat aandui dat stilhou verbode is.
As deel van die oplossing van die probleem word roetine patrollies gedoen asook spesifieke inisiatiewe geneem waar brandpunte besoek word. Dis nie net die voetgangers/mense wat daar staan wat beboet en verwyder word nie, maar ook die motoriste wat hulle op- en aflaai.
"Ons is ook besig met ‘n padveiligheidsprogram om daardie mense in te lig oor die gevare en die ontoelaatbaarheid daarvan." Padtekens is ook opgerig.
Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het gesê die polisie help ander wetstoepassingsinstansies waar nodig. Dit is waarom daar gereelde padblokkades en geïntegreerde wetstoepassingsaksies plaasvind.
The Department of Transport and Public Works in the Western Cape says that it is illegal for pedestrians, hitchhikers and joggers to be on or next to the N2 highway. The area is patrolled routinely and trespassers - including people who offer lifts or drop off workers there - are liable to hefty fines. This follows after George Herald received several complaints about people on the highway, especially between Pacaltsdorp and the Garden Route Mall.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'