GEORGE NUUS - George se verkeershoof, Donovan Saptoe, kan weer asemhaal. Vir eers. Die George-munisipaliteit gaan nie voort met sy skorsing nie.
Dit is egter nie duidelik of ‘n tugverhoor teen hom steeds voortgaan nie.
Saptoe is verlede week deur die munisipaliteit in kennis gestel dat hulle van voorneme is hom te skors.
Hy het Dinsdag in 'n skorsingsverhoor by die munisipale kantore verskyn en hy kon redes aanvoer waarom die voorgenome skorsing nie deurgevoer moet word nie.
Die verhoor is deur privaat regspraktisyns namens die munisipaliteit hanteer en het agter geslote deure plaasgevind.
Lees 'n vorige artikel: Saptoe in verhoor
Nadat Saptoe redes aangevoer het waarom hy nie geskors moet word nie, is aangedui dat hy teen Vrydag 'n beslissing bekend sal maak.
Na verneem word is blykbaar bevind dat Saptoe se werkgewer (die George-munisipaliteit) nie redes kon aanvoer wat 'n skorsing sou regverdig nie.
Sandile Lingani, voorsitter van Samwu (South African Municipal Workers' Union), die vakbond waaraan Saptoe behoort het vanoggend (Vrydag) aan die George Herald bevestig dat die skorsing nie voortgaan nie.
Volgens hom is die vakbond deur die voorsittende beampte van die skorsingsverhoor daaroor ingelig. Samwu kyk nou na die verslag en sal later 'n verklaring uitreik.
Saptoe was nie vir kommentaar beskikbaar nie.
Dit is nie in die stadium duidelik of 'n tugverhoor van die munisipaliteit voortgaan nie.
Luidens die verslag van die voorsittende beampte voorsien hy geen redelike moontlikheid dat die "ondersoek" benadeel kan word of dat die werknemer (Saptoe) moontlike getuies kan beïnvloed in die ondersoek teen hom nie.
Die George Herald het ‘n afskrif van die verslag bekom.
Die ondersoek teen Saptoe hou verband met beweerde wanoptrede deur Saptoe, wat die munisipaliteit se naam in oneer kan bring. Saptoe het ‘n beëdigde verklaring by die polisie afgelê, waarin beweerde wanoptrede van amptenare van die Wes-Kaapse departement van verkeer uitgelig word.
Saptoe het beweer dat hulle die uitreik van ‘n permit aan ‘n direkteur van George Link beïnvloed het. ‘n Tweede rede wat deur die munisipaliteit aangevoer word as genoegsame rede om Saptoe te skors, hangende ‘n ondersoek teen hom, is beweerde weiering om hom aan gesag te onderwerp omdat Saptoe versuim het om te reageer op vyf telefoonoproepe van sy onmiddellike hoof.
'Ons bring jou die nuutst George, Tuinroete nuus'