GEORGE NUUS - Duidelikheid oor wat die toekoms vir George se verkeershoof, Donovan Saptoe, inhou, behoort teen môre (Vrydag) bekend te wees. Saptoe sal dan na alle waarskynlikheid weet of die George-munisipaliteit voortgaan met sy skorsing.
Saptoe is verlede week deur die munisipa-liteit in kennis gestel dat hulle van voorneme is hom te skors.
Hy het Dinsdag in 'n skorsingsverhoor verskyn by die munisipale kantore en hy kon redes aanvoer waarom die voorgenome skorsing nie deurgevoer moet word nie. Hy was vergesel van verteenwoordigers van Samwu, (South African Municipal Workers' Union), die vakbond waaraan hy behoort.
Die verhoor is deur privaat regspraktisyns namens die munisipaliteit hanteer en het agter geslote deure plaasgevind. Die George Herald verneem in sy klagstaat word die redes vir sy voorgenome skorsing glo as "verskeie sake van wangedrag" aangedui sonder om te spesifiseer wat dit presies is.
Nadat Saptoe redes aangevoer het waarom hy nie geskors moet word nie, het die voorsittende beampte glo aangedui dat hy teen Vrydag 'n beslissing bekend sal maak. Saptoe mag intussen nog steeds werk toe gaan en sy pligte voortsit.
Saptoe het by navraag gesê hy gaan nie in die stadium kommentaar lewer nie. "Ek wag nou tot die munisipale prosesse afgehandel is."
Sandile Lingani, voorsitter van Samwu in George, het by navraag gesê uitsluitsel word voor of teen Vrydag verwag.
"Ons (Samwu) het verwag dat die munisipaliteit mnr. Saptoe as 'n fluitjieblaser sou beskerm het. Tot ons verbasing is hy meegedeel oor die voorneme om hom te skors. Ons is nie gelukkig nie. Die gebeure het reeds mnr. Saptoe se loopbaan skade gedoen."
Die George Herald het verskeie vrae aan die George-munisipaliteit oor Saptoe se situasie gestuur. Dit lui onder meer:
- Is dit korrek dat die munisipaliteit van voorneme is om Saptoe tydelik te skors?
- Is hy en die personeel formeel ingelig?
- Watter proses is gevolg en wat gebeur nou?
- Raak dit enigsins die werksaamhede van die verkeersafdeling?
- Hou sy skorsing verband met die onlangs beëdigde verklaring wat hy by die polisie afgelê het en gevra het vir 'n ondersoek?
Chantel Edwards-Klose, kommunikasiebestuurder van die George-munisipaliteit, het in antwoord gesê die instansie mag nie interne administratiewe en personeel-aangeleenthede bespreek nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'